GALLERY: Liefde vir Volkswagens leef voort

Op 18 is Christiaan Swanepoel die trotse eieneaar van meer as 80 Volkswagens wat hy saam met sy pa, Piet, restoureer.

Christiaan het sy skoolloopbaan in 2020 by Hoër Volkskool voltooi en is onlangs by ’n motorfirma in Nigel aangestel.

Christiaan het van kleins af ’n liefde vir ou motors en motorfietse gehad, wat stam van sy pa wie steeds sy eerste motor, ’n 1958 Morris Minor, het wat hy met een van sy eerste salarisse vir R200 gekoop het.

Op 13 het Christiaan sy eerste Volkswagen Kewer gekoop, ’n silwer 1972 1600 model.

“Ek het my pa gehelp om my ouma se huis in Bethlehem te restoreer. Die elektrisiën wat ook by die huis gewerk het, het my Beatle gesien en gevra of ek belang stel in ’n ou Volkswagen minibus wat hy wou weggee. So het ek my eerste kombi gekry,” het Christiaan vertel.

Piet het vertel: “Christiaan was altyd ’n entrepreneur. Hy het Volkswagen wieldoppe op motormarke gekoop, skoon en blink gemaak en weer verkoop teen ’n wins.”

Christiaan beoog om later BCom bemarking of besigheidsbestuur te studeer.

Wat eers slegs ’n stokperdjie was, het ontwikkel in ’n besigheid; Christiaan beoog om die besigheid ’n wêreldbekende besigheid te maak.

“Ek het baie netwerke opgebou en kennis gemaak met ander versamelaars. Ek beoog om my besigheid internasionaal bekend te stel,” het Christiaan gesê, wat tans ’n 1958 linkerhandstuur Volkswagen Kewer restoureer wat hy beplan om op interternasionale vlak te bemark.

“Ons doen meeste van die herstel self en hou sover moontlik die oorspronklike ontwerp en parte. Ons ry heinde en ver om parte te koop en voer ook sommige van die parte in,” het Piet gesê.

Toe die pa en seun-span gevra is wat hul gunsteling is in hul versameling het Christiaan dadelik geantwoord: “Die 1973 Auto Villa kampeerwa waarmee ek gereeld gaan kamp en my 1966 Kewer waarmee ek rondry.”

Vir Piet is een van die sentimenteelste items die 1928 Francis Barnett motorfiets wat ook die oudste item in hierdie versameling is.

Die versameling word gereeld vir troukarre, matriekafskeid en foto-sessies gebruik.

Ongeveer twee jaar terug het die DStv program Kwêla te hore gekom van die versameling en in September 2020 vir Christiaan en Piet kom kuier. Die insetsel was op 14 Februarie uitgesaai, waar Christiaan gesels het oor sy liefde vir die geskiedkundige motors, asook van sy beste transaksies.

“My beste transaksie tot dusver was ’n kombi wat ek vir 17 wrakke geruil het,” het Christiaan vertel. Vir pa’s en kinders wat ’n liefde het vir motors, is Piet se boodskap dat daar altyd ’n geleentheid vir entrepreneurskap is.

“Klein transaksies kan stelselmatig groei tot ’n besigheid. ’n Netwerk van mense met dieselfde belangstelling maak baie deure tot sukses oop,” het Piet gesê.

Christiaan het gesê: “Daar is waarde en geskiedenis in al die Volkswagens in my versameling. Ek is baie opgewonde om my besigheid, CSVW (Christiaan Swanepoel Volkswagens), verder en weier te versprei.”

Piet se 1958 Morris Minor wat ook in lyn is vir restourasie.
Piet Swanepoel en sy seun, Christiaan, op die werf tussen al die Volkswagens wat hulle wil restoureer.
Christiaan en Piet by een van die Volkswagens wat hulle gerestoureer het.
Christiaan se huidige ryding, ‘n 1966 Kewer, word gereeld blink gevryf deur Joseph Tshabalala wat hom en sy pa help met die restourasies.
Die 1973 Auto Villa kampeerwa is een van Christiaan se gunstelinge.
Die Volkswagens op die werf wat reg staan vir restourasies.
Die motorfiets versameling sluit ‘n oorspronklike 1928 Francis Bannett in wat een van Piet se gunstelinge is.
Exit mobile version