Local newsNews

Slegte reuk grief Rensburg inwoners

Verskeie faktore het tot die probleem aanleiding gegee.

’n Reuk van riool wat die afgelope tyd oor Rensburg gehang het, het inwoners na hul neuse laat gryp.

Star Moholobela (bestuurder stormwater en riool afdeling van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit) het op 28 Januarie ondersoek ingestel en op verskeie probleme afgekom.

’n Houtpaal, wat op een of ander manier in die rioolstelsel beland het, het in ’n pomp vasgesit.

Dit het veroorsaak dat die pompstasie in Poortjiestraat buite werking was.

Daar was ook maskers en ander rommel in die riool gevind.

DA raadslid Mirna Mulder het ’n klagte by die munisipaliteit aanhangig gemaak.

“Inwoners is al radeloos en sit met hande in hul hare,” het Mulder gesê.

“Daar is riool wat selfs van tyd tot tyd in hulle erwe opstoot en die reuk is walglik.”

Mulder het ook versoek dat inwoners nie ongewenste materiaal en rommel in die rioolstelsel gooi of afspoel nie.

‘n Houtpaal is in die pomp by die riool pompstasie in Poortjiestraat gevind.

Moholobela het gesê dat die opgradering van die riool pompstasie in Schuinsstraat onder bespreking vir die nabye toekoms is.

Wenke om te verseker dat rioolstelsels nie verstop raak en probleme veroorsaak nie is:

• Vermy om items weg te spoel wat nie oplosbaar is nie. Dit sluit weggooidoeke en higiëniese produkte in.

• Gebruikte kookolie moet nie in die wasbak afgespoel word nie.

• Lang hare kan ook ’n drein blok. Verwyder enige los hare voordat die hare afgespoel word.

• Papier handdoeke en servette behoort in die asblik, nie in die toiletbak nie.

• Bome, plante ensovoorts moet sovêr moontlik weggehou word van rioolpype en- lyne. Die wortels kan die pype blok en dit veroorsaak dat die pyplyne moontlik buite werking kan wees vir lang tydperke.

Related Articles

Back to top button