Local newsNews

Gemeenskap rou na dominee se dood

Die gemeenskap het verlede week geleer van ds Pieter Buckle se afsterwe.

Die gemeenskappe van Nigel en Sundra is in rou gedompel na ’n ongeluk op 29 November wat ds Pieter Buckle (69) van die NG Nigel-Suid gemeente ge-eis het.

Die ongeluk het op die R42 pad tussen Nigel en Heidelberg tussen ’n bakkie en minibus taxi plaasgevind.

Beide bestuurders is op die toneel deur nooddienste dood verklaar.

Buckle het sy loopbaan as prediker begin nadat hy aan die einde van 1978 by die Universiteit van Pretoria proponent geword het.

Hy het aan die begin van 1979 in bediening getree by die Caprivi gemeente in Namibia as kapelaan.

Hierna het hy vanaf 1983 tot 1994 die NG Gemeente in Piet Retief bedien. In 1994 het Buckle die Gemeente Sundra bedien tot sy aftrede uit voltydse bediening in 2003.

Buckle het sedertdien by verskeie gemeentes gepreek en was sedert die begin van 2019 betrokke by NG Nigel-Suid.

Hy en sy vrou, Itta, wat vanjaar 43 jaar getroud was, is al vir byna 27 jaar in die Oosrand bekend.

“Hy was ’n besonderse mens,” het ds Chris Engelbrecht wat saam met Buckle by die gemeente betrokke was, gesê.

“Hy was nie net ’n geleerde en intelligente persoon nie, maar hy was ’n wyse man.

Ds Pieter Buckle laat ’n leemte in die gemeenskap wat hy bedien het.

“Ek het baie wysheid by hom gekry.”

Engelbrecht het ook vir Buckle as ’n gedissiplineerde persoon beskryf.

“Hy was goed met beplanning,” het hy verduidelik.

“Wat ek ook altyd sal onthou van hom is dat hy in die vroeë oggendure opgestaan het om sy stiltetyd te hou.

“Omdat hy ook sy eie houtwerk besigheid bedryf het, het hy daardie tyd gemaak om stil te word.

“Hy het ’n ooreenkoms met die Here gehad, dat wanneer hy deur Hom wakker gemaak is, dat hy sou stiltetyd hou.

“Ek dink baie van ons gemeente en gemeenskapslede sal ook kan getuig, met die laatnagboodskappe wat hulle baie aande op die gemeente se WhatsApp-groep ontvang het van hom af.

“Ek sal vir Pieter altyd as ’n geliefde persoon onthou.

“Hy was ’n mense-mens wat maklik kon gesels en het almal altyd vriendelik en mooi behandel.”

Buckle, wat vir almal in die gemeenskap ’n vriend was, laat ’n leemte met sy afsterwe.

Itta Buckle saam met haar man, ds Pieter Buckle, en ds Chris Engelbreght en sy vrou, Cecile, in die NG Nigel-Suid kerk.

“Ek wil net dankie sê vir die gemeenskap en hulle liefdevolle aanvaarding,” het Itta gesê.

“Baie dankie dat julle ons omarm het met julle vriendelikheid, liefde en aanvaarding.”

Sy gedenkdiens was op 4 Desember by die kerk gehou.

Hy laat sy vrou, hul vier kinders en sewe kleinkinders agter.

Die oorsaak van die ongeluk is steeds onbekend en word ondersoek.

Related Articles

Back to top button