Local newsNews

Heidelberger wen Mnr Tiener SA-titel

’n 18-jarige inwoner van Heidelberg is onlangs aangewys as Mnr Tiener Suid-Afrika.

SJ Pretorius, ’n graad 11-leerder aan Hoër Volkskool, is geen vreemdeling op die loopplank nie en het ’n hele rits gesogte titels agter sy naam, soos Mr Teen Gauteng en Rolemodels SA Gesig van 2020.

SJ het ook in 2020 die Talent Africa se mansafdeling gewen en is as Model en Gesig van die Jaar aangewys. Hy was ook ’n Face of Willet finalis die jaar. Die titel van Mr Skole 2020 staan ook agter sy naam.

Sy ouers, Sarel en Frieda, is trots op hulle seun en die sukses wat hy tot dusvêr in sy kort loopbaan bereik het.

Oor sy nuutste titel, het SJ gesê dat hy ’n voorbeeld vir ander wil wees en Suid-Afrikaners trots maak.

Hy glo die wen van die Mnr Tiener SA-titel gaan vir hom baie deure oopmaak en hy sien die wen as ’n geleentheid om die kompetisie te help groei.

SJ het gesê hy hoop om eendag aan groter kompetisies, soos Mnr SA, deel te neem.

SJ Pretorius en Hannes van der Walt, Mnr Suid-Afrika 2020.

Volgens hom was die doel van die deelname aan die Mnr Tiener SA-kompetisie bloot om ervaring op te doen.
Toe hy aangewys is as een van vyf finaliste was dit reeds vir hom ’n groot eer.

“Ek het nie regtig besef ek het gewen toe hulle my naam gelees het nie,” het SJ gesê.

“Mnr SA Hannes van der Walt, wat naby my gesit het tydens die aankondiging, moes vir my sê om op te staan.”

SJ se loopbaan was nie altyd rooskleurig nie. Inteendeel, in 2018 het hy sy nek en rug ernstig beseer tydens ’n rugbywedstryd. Verskeie operasies, rehabilitasie en terapie het gevolg. Om sy postuur te verbeter, het SJ by ’n afrondingskool aangesluit.

SJ Pretorius en De Villiers Koster, wie aangewys is as die eerste prins.

Sy belangstelling in modelwerk het begin in 2017 toe hy aan ’n eisteddfod se model-afdeling deelgeneem het.

Sedertdien, het sy modelloopbaan met vooruitgegaan en het hy ook aan menige fotosessies deelgeneem.

SJ se boodskap aan die gemeenskap: “Die lewe gaan vir jou blokke in jou pad neersit; dit is jou besluit of jy van hierdie blok ’n struikelblok of boublok wil maak.

“Enige iets is moontlik. Mens moet positief bly, maak nie saak wat die situasie is nie, dit sal beter word oor tyd.

SJ Pretorius en Lee Jacobs, die tweede prins.

“Ek wil van die platform gebruik maak om vir ander ook te wys dat modelwerk nie net vir meisies is nie. Ek wil die stigma hier rondom verander en vir mense wys dat dit nie van jou ’n ‘sissie’ maak nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button