Local newsNews

Drama studente gebore en getoë vir die verhoog

’n Groep van 27 deelnemers het in verskillende ouderdomsgroepe aan drama, dans, modelwerk en vokale kategorieë deelgeneem.

Na maande van harde voorbereiding het drama studente van die CJ Cillié Drama Ateljee, wat in Heidelberg geleë is, aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste (Sacopa) in Rustenburg vanaf 1 tot 10 Oktober deelgeneem.

’n Groep van 27 deelnemers het in verskillende ouderdomsgroepe aan drama, dans, modelwerk en vokale kategorieë deelgeneem. Net vir die drama het die studente 319 medaljes ontvang: 136 goud, 119 silwer en 62 brons.

Sewe van die studente was aangewys as algehele wenners in hul verskillende kategorieë:

• Suané Matthews (ouderdomsgroep: vyf tot 12 jaar) beste vroulike aktriese in drama.

• Johandré Viljoen (ouderdomsgroep: vyf tot 12 jaar) beste manlike akteur in drama.

• Ewan Hilliard-Lomas (ouderdomsgroep: vyf tot 12 jaar) beste manlike model.

• Carla Schönfeldt (ouderdomsgroep 13 tot 15 jaar) beste vroulike aktriese in drama.

• Ruanco Ueckermann (ouderdomsgroep 13 tot 15 jaar) beste manlike akteur in drama.

• Rico Immelman (ouderdomsgroep 13 tot 15 jaar) beste manlike model.

• Graytin Pretorius (ouderdomsgroep 16 tot 24 jaar) beste manlike model.

Carla en Ruanco is die Saterdagaand tydens ’n spoggeleentheid as die vroulike en manlike hoofkampioene van 2021 aangewys.

Die twee het die hoogste algehele punt by drie gekwalifiseerde beoordelaars in die drama-afdeling ontvang.

Wat hierdie prestasie vir hulle nog groter maak, is dat dit gestrek het vanaf die ouderdom 5 jaar tot 30+. Dit was voorwaar ’n ongelooflike prestasie,” het Cecelia Cillié van die drama ateljee gesê.

“Al die studente het die Suid-Afrikaanse-span gehaal en sal die land in Julie by die Wêreld Kampioenskappe in Los Angeles, California, verteenwoordig.”

Cillié was ook tydens die kampioenskappe bekroon met die Beste Onderwyser-toekenning. Die toekenning sluit in dat al haar kostes vir 2022 ten volle betaal word om saam met haar studente na die Wêreld Kampioenskappe te kan gaan.

“God het my en my personeel ’n ongelooflike talent gegee en daarmee moet gewoeker word,” het Cillié gesê.

“As ek een boodskap vir ons gemeenskap kan gee, sal dit wees dat jy nie hoef goed te wees om te begin nie, jy moet net begin om goed te wees.”

Related Articles

Back to top button