Local newsNews

SAVF kyk terug op moeilike maar suksesvolle jaar

Die SAVF Nigel-tak het op 20 Oktober hul algemene jaarvergadering gehou.

Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) se Nigel-tak het op 20 Oktober hul algemene jaarvergadering gehou.

Lede en vrywilligers het by die vergadering terug gekyk op ’n jaar vol uitdagings. ’n Nuwe diensbestuur vir die tak is ook verkies.

Die tak het ook tydens die vergadering die organisasie se 117de bestaansjaar gevier.

“Covid was ’n moeilike tyd vir ons almal,” het voorsitter ds Chris Engelbrecht gesê.

“Ons lede het tydens die inperking self rond gery om kospakkies by ons behoeftige gesinne te gaan aflaai.”

Te danke aan die tak se donateurs en pligsgetroue lede kon die behoeftige gesinne in, onder andere, Jamesonpark, Noycedale en Alra Park steeds hul maandelikse kospakkies kry.

Die tak maak gebruik van die NG Moedergemeente in Nigel se kerksaal om hul vrywillige werk te doen.

“Ek wil ook baie dankie sê aan ons bestuurslede en vrywilligers vir al die reëlings wat getref was tydens die jaar om die kos en kruideniersware hier te kry en dan uit te deel,” het Engelbrecht gesê.

“Met dit bygesê, was dit ook vir ons uiteindelik moontlik om ’n Kersete aan die einde van 2020 te hou vir ons behoeftige gesinne. Ek is veral dankbaar dat ons dit kon doen volgens protokol en Covid-19 reëls en regulasies.”

Ten spyte van die moeilike jaar wat die tak agter die rug het, het die tak slegs ’n R90 tekort gehad.

“Ek dank die Here vir die jaar ten spyte van sy uitdagings,” het Via Coetzee gesê.

Sy het ook elke bestuurslid en vrywilliger wat hul kant gebring het en hul deel gedoen het deur die jaar bedank.

Die SAVF se streeksbestuurder, Louise Ferreira, het die tak geloof vir hul onbaatsugtige diens en goeie werk.

Elise van Ryssen, Wilma St James, Meisie Marais, Gerda Gouws, ds Chris Engelbrecht, Via Coetzee en ds Jarred Adendorff is as die tak se nuwe diensbestuur verkies.

Ferreira het ook die tak gelukgewens vir die sukses wat behaal is deur die jaar, ten spyte van die R90 tekort, wat Ferreira ook komieklik gevind het.

“Ek wou eintlik lag toe ek die R90 tekort sien,” het Ferreira vertel.

“Want as mens mooi daaroor dink, werk ons eintlik met groot bedrae geld en R90 is iets wat meeste van ons uit ons sak uit kan gee.”

Ferreira het voor die verkiesing van die nuwe diensbestuur ook vertel hoe trots sy op die tak se vordering en vrywilligers is.

Die tak se nuwe diensbestuur is soos volg:

Ds Chris Engelbrecht (voorsitter), ds Jared Adendorff (ondervoorsitter), Wilma St James (sekretaris), Via Coetzee (tesourier), Gerda Gouws, Meisie Marais en Elise van Ryssen (bykomende lede).

Vir meer inligting oor die tak en hul bedrywighede of om aan te sluit as vrywilliger kontak Engelbrecht by 082 561 9081.

Related Articles

Back to top button