EntertainmentLifestyleUpdate

Praat hierdie Valentynsdag deur blomme

Maak gebruik van die natuur om te sê wat jy nie altyd kan nie.

Liefde is weer in die lug met die aankoms van Valentynsdag. Valentynsdag word op 14 Februarie wêreldwyd gevier en met die koop van kaartjies, sjokolade of blomme sal geliefdes weer die liefdesvure laat brand.
Die gewildste blom waarmee Valentynsdag vereenselwig word is rose. Rooi rose. Rooi is tog die kleur van liefde, maar hierdie jaar kan mens bietjie rondspeel en ander alternatiewe oorweeg.
Volgens Readers Digest is daar verskillende blomme wat op Valentynsdag die regte ding kan sê. Die eerste alternatief is rooi en pienk Tulpe. `n Turkse legende het gesê Tulpe simboliseer `n nuwe begin, en verteenwoordig “perfekte liefde”.
Nog `n alternatief is `n orgidee. Hierdie delikate blom verteenwoordig liefde, luuksheid, skoonheid en krag. Volgens Teleflora het antieke Grieke geglo dat as `n man `n groot orgidee knol eet, gaan sy vrou `n seuntjie verwag.
Die sonnige sonneblom is ook op die lysie. Die geel gesiggies is genoeg om enige huis vrolik te laat voel. Watchtower Online Library sê die sonneblom kry sy oorsprong uit Sentraal-Amerika en het latere jare na ander dele van die wêreld versprei. Sonneblomme het nié net ekonomiese voordele nie, maar dit kan mens se geliefde ook opkikker omdat dit geluk en trots aandui.
As jy nie geld wil spandeer op `n blom wat binnekort gaan verlep nie, is `n vetplant ook `n goeie idee meen Readers Digest. Vetplante is maklik om voor te sorg en kan vir maande lank hou. Met meer as 50 spesies van vetplante om van te kies, dui hierdie plante onskatbare, blywende, tydlose liefde aan.
Vir `n goedkoper alternatief is angeliere `n goeie keuse. Angeliere kom in baie kleure voor en simboliseer in die algemeen liefde. Elke kleur dra `n groter betekenis oor. Wit angeliere stel ‘suiwer liefde’ voor, rooi angeliere stel ‘bewondering’ voor en pienk angeliere dui op `n ma se ‘onsterflike liefde’.
Daar is ook `n paar blomme wat glad nie vir Valentynsdag oorweeg moet word nie. Wit lelies word in meeste kulture gesien as die begrafnisblom. Volgens navorsers simboliseer lelies ‘ewige liefde’ wat die uiteindelike boodskap by `n begrafnis weergee.
Anemone en papawers word ook vereenselwig met die ‘ewige slaap’.
Die taal van blomme kan hierdie Valentynsdag jou baie help om bonuspunte by jou geliefde te kry. Praat hierdie Valentynsdag deur blomme en maak gebruik van die natuur om te sê wat jy nie altyd kan nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button