Local newsNews

Leer ons mense ken – Collette Kruger

Collette Kruger is op 20 ’n ovaal-wedren renjaer. Sy het grootgeword in Mosselbaai en werk sedert 2020 in Nigel. HERAUT het by die spoedvraat gaan inloer om haar beter te leer ken.

Hoe het jou liefde vir ovaal-wedrenne ontstaan?

My hele familie is en was motorsport entoesiaste. My pa, Frik Kruger, het vir vele jare in Gauteng deelgeneem en was geken deur al sy Ford Escorts (beide langbaan en ovaalbaan) voordat hy en my ma Wes-Kaap toe verhuis het in die laat 90’s. Ek het langs die ovaalbaan grootgeword aangesien my pa toe nog aktief deelgeneem het by bane soos Oudtshoorn, George, Tygerberg en Worcester.

Van kleins af was ek saam met my pa in die motorhuis besig as hy aan sy renmotors of ander kliënte se motors gewerk het en het so my kennis van voertuie opgebou. Soos ek ouer geword het wou ek nie meer net ‘pitmac’ vir my pa gespeel het, maar self ook begin ry.

Ons het 2012 terug verhuis Gauteng toe en hy het 2014 weer begin deelneem, weereens met ’n MK2 Ford Escort. Dis toe dat hy my die geleentheid gegee het om met sy kar te begin oefen. Kort voor lank het ons my eie kar (ook ’n MK2 Ford Escort) begin bou en op 21 Mei 2016 het ek aan my eerste wedren in die 1660 Modified Saloons-klas deelgeneem saam met my pa. In Desember daardie jaar het ek toekennings vir eerste plek in ons klas kampioenskap en Most Up-and-Coming Oval Competitor Senior ontvang.

In watter kompetisies het jy al deelgeneem?

Meestal net aan ons klub kampioenskappe by The Rock Raceway in Brakpan, maar het ook al by Mahem Raceway in Pretoria aan hulle Ford Escort Challenge deelgeneem en ’n sewende plek behaal uit ongeveer 20 Ford Escorts. Verder het ek nog net by Rietkuil Raceway deelgeneem.

Wat is jou grootste mylpaal wat jy tot dusver bereik het?

My grootste mylpaal verwys nie na enige trofeë wat ek ontvang het nie, maar die oomblik wat vir my die meeste uitstaan was toe ’n ander renjaer my kar van agter gelig het in ’n wedren wat toe veroorsaak het dat my kar rol. Nadat die paramedici my nagegaan het, het ek die baanbeamptes gevra of ek mag verder ry aangesien mens nie juis toegelaat word om voort te gaan met die ren na ’n ongeluk nie. Met hul toestemming het ek weer in my renmotor geklim en die aand se renne voltooi.

Hoe het die pandemie jou sport beinvloed?

Die pandemie het ’n negatiewe impak op my sport. Ons het laasjaar Maart ons laaste wedren gery net voor die eerste inperking. The Rock Raceway het geen byeenkomste aangebied as gevolg van regulasies nie. Meeste van ons het vir die eerste keer sedert Maart 2020 by Rietkuil deelgeneem op 5 September. Vir enige renjaer voel dit soos ’n ewigheid om vir selfs ’n week nie te mag ry nie. Ons kon eers weer vanaf 13 Maart by The Rock ry en dit is weer stopgesit na ons wedren op 12 Junie met die nuwe inperking en regulasies wat in werking getree het.

Wat weet die gemeenskap nie van jou nie?

Ek glo meeste van Nigel se gemeenskap het geen idee gehad dat ek aan motorsport deelneem nie.

Wat is jou gunsteling kos?

Hawaiian pizza is definitief boaan die lysie.

Waar hou jy graag vakansie?

In my tuisdorp, Mosselbaai. Daar is geen mooier plek in die land nie.

Wat is jou grootste droom?

Om eendag die manne op die baan pak te gee met ’n Ford enjin. Meeste manne (meeste van die ander drywers is mans bo 30 jaar) jaag met Nissan of Volkswagen enjins en kyk die Ford baie vlak. Nou, met my nuwe kar wat ligter is as my staalbak Escort wat ek tot onlangs mee gery het, hoop ek om met baie oefening binnekort te bewys dat ’n Ford enjin wat reg gebou is hulle kan aanvat. Dit is ook om my pa se Ford naam hoog te hou aangesien hy byna 30 jaar net met Ford motors geren het.

Wie is jou rolmodel?

Van kleins af het ek saam my ouers Formula 1 gekyk het, so ek het altyd opgekyk na Michael Schumacher wat ’n uitstekende renjaer was tot en met sy ski-ongeluk. In my meer nabye sirkel sal ek sê my pa is my rolmodel. Hy was ’n kort rukkie voor my geboorte in ’n dieseltenk ontploffing betrokke en het erge brandwonde aan sy hele lyf oogedoen.

Talle dokters het hom geen kans op oorlewing gegee, maar ’n paar maande later het hy by die hospitaal uitgestap op sy eie en ’n paar dae na dit het hy weer aan ’n wedren gaan deelneem al was sy wonde nog nie behoorlik genees nie. Hy het na dié ongeluk steeds nie sy passie opgegee nie en my gewys dat mens ten spyte van alle probleme steeds mens se drome kan najaag.

Wat is jou gunsteling kar?

Sonder twyfel ’n MK2 Ford Escort 1600 Sport (met die regte hart – ’n Kent-enjin). Ek is besig om een te restoreer vir my padmotor en dit is ’n tipe voertuig wat ek mee grootgeword het en het altyd my asem wegslaan as ek een sien.

Wat is die vinnigste wat jy al ooit in enige motor gery het?

Aangesien nie een van my renmotors ’n snelheidsmeter ingehad het nie, weet ek nie hoe vinnig ek self op die baan gery het nie, maar ek saam met ’n plaaslike inwoner met ’n baie mooi wit Ford Escort ongeveer 200km/h gery. Saam met my pa met my oupa se MK1 Ford Escort het ek al ongeveer 240km/h gery. (Let wel, altyd in veilige omgewings soos op ’n renbaan.)

Wat is jou boodskap aan ander wat in ovaal-wedrenne belangstel?

As jy ’n passie vir motors het en altyd streef na nog meer spoed en die adrenalien van teen 25 ander renjaers deelneem, is ovaal-wedrenne net die ding vir jou. Afhangend van watter klas jy in wil deelneem, is dit ’n redelike goedkoop sport om in betrokke te raak en dit bied baie genot.

Dit is ’n goeie manier om van spanning ontslae te raak. Wanneer mens op die baan wag vir die groenvlag om te val sodat jy kan wegtrek, verdwyn jou sorge vir daai paar oomblikke. Enige motorliefhebbers en spoedvrate glo ek sal met die volgende aanhaling saamstem van Paul Walker: “If one day speed kills me, don’t cry because I was smiling.”

Related Articles

Back to top button