Local newsNews

Muurbalspelers geniet sport onder streng maatreëls

Die Heidelberg Muurbalklub het verskeie maatreëls ingebring soos vereis deur Squash South Africa om hul spelers veilig te hou.

Vanweë die vlak vier regulasies rondom die beoefening van sport, het die Heidelberg Muurbalklub hul maatreëls aangepas om sodoende die regulasies na te kom.

HERAUT het met Nico Archer van die klub gesels om te hoor hoe hul maatreëls aangepas is.

“Ons klub is oop tydens vlak vier, alhoewel ons aan geen toernooie, ligas of enige sosiale geleenthede deelneem nie, wat die lekker van die sport af wegneem,” het Archer gesê.

“Al ons spelers het wel sleutels tot die bane en kan dus dit enige tyd benut.”

Archer meen dat die klub hul maatreëls aangepas het op grond van Squash SA se hersiende regulasies en beperkinge.

Die beperkinge sluit die volgende in:

• Spelers mag net die klub se bane benut vir ’n spel. Geen speler mag na ’n spel staan en kuier met ander spelers nie.

• Slegs 50% van die klub se bane mag benut word.

• Geen ligas of georganiseerde wedstryde of toernooie mag gereël word nie.

• Die klub moet om 20:00 toemaak om sodoende spelers toe te laat om by hul huise uit te kom voor die aandklokreël.

• Geen alkohol word by die klub verkoop nie.

• Slegs enkelspelle word toegelaat, geen dubbelspelle nie.

• Maskers moet gedra word wanneer spelers die klub binnekom of verlaat. Spelers mag hul maskers slegs op die baan afhaal.

• Kleedkamers en toilette mag slegs in noodgevalle gebruik word.

• Alle spelers wat gebruik maak van die bane moet geregistreer wees by Squash SA deur SportyHQ.com

• Spelers mag nie hul gereedskap deel nie.

• Spelers mag nie hul hande op baan mure afvee nie.

• Waterfonteine mag nie gebruik word nie, spelers moet hul eie water saambring.

• Inteken prosedures, ontsmetting en temperature moet per register opgeteken word.

• Geen gaste of toeskouers word toegelaat nie.

“Covid sal verby gaan,” het Archer gesê.

“As ons onsself op pas, dan sal ons vorentoe weer ons sport ten volle geniet.”

Vir meer inligting kontak Archer by 063 769 3989.

Related Articles

Back to top button