Local newsNews

Blom waar jy geplant is, sê Corli

Heidelberg inwoner Corli Leonard (35) was onlangs op die DStv-program Groenste Vingers gesien, waar sy een van die finaliste was.

Van meestersgraad in bedryfsingenieurswese tot kreatiewe bloemiste, glo Corli jy moet blom waar jy geplant is.

Corli was nog altyd lief vir skep en haar kreatiewe talent was al op skool raakgesien, veral deur haar kunsonderwyser.

Sy het op ’n plaas buite Heidelberg grootgeword waar sy een van haar skeppende stokperdjies beoefen het deur blomrangskikkings te doen.

Nadat sy by Hoër Volkskool matrikuleer het, het sy haar meestersgraad in bedryfsingenieurswese by Stellenbosch Universiteit behaal. Na haar studies het sy vir ongeveer 10 jaar in die Kaap gebly en gewerk, is deur twee afleggings en na die tweede een het sy in 2018 teruggekeer na haar ouers op die plaas.

Corli Leonard skep haar eie styl gedurende Groenste Vingers.

“Ek wou eers my kop skoonkry voordat ek weer aansoek doen vir ’n volgende werk, want so iets vat nogals aan mens,” het Corli vertel.

Met haar aankoms terug op die plaas was dit trouseisoen en sy kon woeker met haar talent om blomme te doen.

“Wat eers begin het as hier en daar uithelp met die troues se blomme as ’n guns het gou ontwikkel in meer as net ’n stokperdjie, en ek het meer gaan leer by ’n bloemisvriendin, Monet van The Stone Cellar. In Maart 2019 het ek my eerste troue op my eie gedoen by ons eie venue, Die Klipskuur, en toe begin om troues by Lezar en ’n paar ander venues in Pretoria te doen,” het Corli vertel.

Lockdown het ’n demper op die trou-industrie geplaas, maar in September het Corli weer volstoom begin werk aan troues tot einde November, toe die tweede Covid-golf weer halt geroep het. Die stilstand het haar net weer laat besef dat blomme haar passie is en sy het nie versuim om dadelik in te skryf toe sy van Groenste Vingers te hore gekom het nie.

Blom waar jy geplant is, is Corli Leonard se raad aan veral jong bloemiste.

“Ek het nog nooit aan enige blomkompetisies deelgeneem nie en was nogals gespanne toe ek sien dat al die ander finaliste soveel jare se ondervinding het in die industrie, maar ek het ook besef dat ek net myself moet wees en my eie styl na die tafel moet bring,” het Corli gesê.

Sy glo omdat bedryfsingenieurswese baie met probleemoplossing te doen het, is sy ingestel om sistematies te werk en ’n situasie vinnig te ontleed en dan op te los met wat tot haar beskikking is. Dit is juis hierdie eienskap saam met haar eie styl wat gemaak het dat sy tot finalis gevorder het.

“Ek het baie geleer van kleur, balans en ontwerp deur my uitdagings op die program, maar ook deur na die ander deelnemers se uitdagings te kyk. Dit was ’n voorreg om van die ervare blomkenners af raad en kritiek te kan kry wat ek in die toekoms kan gebruik,” het sy vertel.

Corli Leonard tussen blomme van alle kleur wat sy noukeurig uitkies vir haar unieke skeppings.

Sy het gesê sy sien uit om die vier deelnemers wat nog meeding te volg om te sien wat hul nog alles gaan skep.

Die Heidelberger het beslis geblom waar sy geplant was en alhoewel sy nie meer ’n deelnemer is nie, het sy beslis ’n indruk gemaak en daarby haar passie vir blomme bly uitleef.

Alhoewel dit in die industrie moeilik is om te beplan vir die toekoms, het Corli ’n hele paar troues vir die res van die jaar indien regulasies dit toelaat. Sy beplan ook om voort te gaan met haar blomwerkswinkels wat sy laasjaar mee begin het.

Corli het vertel dat sy elke keer wanneer sy ’n bruid se ruiker oorhandig, sy haar hart en siel daarin gestort het, maar toe sy gevra is wat die mooiste ruiker was wat sy nog ooit gedoen het, was dit sonder twyfel haar pa se dankdiens na sy dood in 2019.

“Dit het my gehelp om sy lewe te vier en dit as laaste geskenk vir hom te kon gee,” het sy vertel.

Corli Leonard op haar gelukkigste in die kwekery tussen blomme wat sy omskep in pragtige rangskikkings.

Corli se raad aan jong bloemiste is om jou eie styl te ontdek en getrou daaraan te bly.

“Jou kreatiwiteit kom van God af. Leer by ander bloemiste en kenners, maar ontgin jou styl. Die belangrikste van alles is om te blom waar jy geplant is,” het Corli afgesluit.

Related Articles

Back to top button