Local newsNews

Bejaarde inwoner van Suikerbosrand Aftree-oord sterf

'n Bejaarde suurstofnood-leier van die Suikerbosrand Aftree-oord is Dinsdag oorlede nadat sy vermoedelik blootgestel was aan giftige koolstof-monoksied gasse wat van ’n kragopwekker in die motorhuis afkomstig was.

Letitia Greyling
letitiag@caxton.co.za

Haar eggenoot, wat ook na bewering deur die gasse oorval was, kon betyds gered word en is in die Life Suikerbosrand Hospitaal opgeneem.

Die egpaar se dogter, Tracy Baleta, het egter gesê dat haar ma aan ’n hartaanval oorlede is.
Cilla Baleta (79) het saam met haar man, George (82), in ’n eienaarsbelangeenheid van die Suikerbosrand Afrtree-oord gewoon.
Die egpaar was 58 jaar getroud en het die afgelope vyf jaar in die aftree-oord gewoon.

“My ouers het lekker gebly en was oor die algemeen baie gelukkig by die oord,” het Tracy Donderdag aan die HERAUT gesê.

Daar was die aand van 15 Maart asook in die vroeë oggendure van 16 Maart beurtkrag.
Volgens inligting was George besorg oor die krag situasie en het hy na bewering die kragopwekker aangeskakel en glo nie besef dat hy nie die binnedeur tussen die motorhuis en huis toegemaak het nie.

“My pa was die afgelope paar jaar baie deurmekaar en vergeetagtig,” het Tracy vertel.

Nadat die egpaar nie Tracy se oproepe beantwoord het nie, het sy bekommerd geraak, waarna sy bestuur gekontak het.

Volgens inligting het die Suikerbosoord-bestuur onmiddellik ondersoek ingestel en opgemerk dat daar ’n sagte dreuning van ’n draagbare kragopwekker uit die motorhuis kom.
Die onderhoudsbestuurder, Deo Meere, het dadelik toegang deur die motorhuisdeur verkry en die kragopwekker afgeskakel en besef dat die hele motorhuis gevul was met uitlaatgasse van die kragopwekker.
Hy het opgemerk dat die binnedeur tussen die motorhuis en die huis oop was en het die voordeur oopgemaak.
Meere het verder deur die huis beweeg en gesien dat daar ’n noodsituasie in die slaapkamer was.

Hy het die alarm aktiveer en matrone Hester Hugo en suster Hannetjie Marais van die siekeboeg was binne minute op die toneel, waar hulle noodbehandeling toegepas het.

Cilla was reeds oorlede en George se toestand was kritiek.
Die siekeboeg matrone en suster kon George stabiliseer en hy is per ambulans na die Life Suikerbosrand Hospitaal geneem.

“Die vinnige optrede deur die personeel van die oord en die Baletas se buurman, Pieter de Villiers, wat ook kom help het, het daartoe bygedra dat George oorleef het,” het Jannie Kotze, bestuurder gesê.
“Ons sekuriteitsmaatskappy was binne enkele minute op die toneel en het gehelp om die nooddienste, polisie en berader te reël,” het Jannie gesê.

“Die bestuur van die oord betreur die voorval en simpatiseer met die gesin, familie en vriende.
“Ons doen ook ’n verdere beroep op inwoners van die oord om hierdie tipe toerusting aan die bestuur te verklaar sodat ’n meer gepaste oplossing eerder vir die probleem van beurtkrag in plek gekry kan word.”

George is Donderdag ontslaan en gaan nou by sy dogter woon.

“My ma se nadoodse ondersoek het bevestig dat sy aan ’n hartaanval oorlede is,” het Tracy gesê.
“Daar was geen tekens van giftige koolstof-monoksied gasse in haar bloed nie.
“Sy was permanent op suurstof en as gevolg van die beurtkrag het die battery van die suurstoftenk afgeloop.
“Die dokter vermoed dat haar liggaam in skok gegaan het, wat die hartaanval veroorsaak het.
“My pa is nog baie geskok en nou nog meer deurmekaar,” het Tracy bygevoeg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button