Local newsNews

Huwelik hou vir Hennie (90) jonk

Hennie Swart (90) bereik ’n mylpaal in jare en deel sy wysheid.

Hennie Swart het op 8 Februarie sy 90ste verjaarsdag gevier.

Hennie en sy vrou, Sarie (84), het die spesiale dag saam geniet, maar weens Covid-19 reëls en regulasies kon die egpaar ongelukkig nie ’n groot verjaarsdagpartytjie reël nie.

Hennie is in 1931 gebore in Volksrust, waar hy tot en met standerd ses op ’n plaasskool in Sandspruit op laerskool was. Hierna was hy in Hoërskool Volksrust, waarna hy in HTS Middelburg sy skoolloopbaan voltooi het.

Hennie het toevallig vir Sarie by ’n kerk byeenkoms ontmoet, ’n gebeurtenis wat hy as ’n spesiale dag beskryf het.
Kort na hul ontmoeting is die egpaar getroud en kan spog met meer as 60 jaar saam in die huwelik. Vanuit hul huwelik is daar twee dogters gebore, vier kleinkinders en een agterkleinkind.

“Dit is die getroude lewe wat mens jonk en besig hou,” het Hennie vertel.

Na 42 jaar diens by Oostelike Transvaalse Kooperasie (OTK) in Middelburg, het Hennie afgetree en hy en sy vrou het na Nigel verhuis.

Hulle woon al sedert hul aankoms in Nigel in die Eeufeespark Aftree-oord, wat van die egpaar die langste inwoners in die oord maak. Hennie is ook die oudste persoon wat tans in die aftree-oord woon.

Hy was vir meer as 40 jaar op die Hervormde Kerk in Middelburg se kerkraad, waar hy as getroue lidmaat gedien het.

Met die egpaar se aankoms in Nigel het Hennie ook hier sy rol opgeneem en as getroue lidmaat op die Hervormde Kerk Nigel se kerkraad gedien.

“Vir jongmense is my raad om altyd ’n Christelike lewe te handhaaf en om in alles Christus eerste te stel.”

Related Articles

Back to top button