Local newsNewsSchools

Botha neem leisels oor as hoof by Volkies

Botha, wat in Heidelberg gebore is, is vir die afgelope 20 jaar in die onderwys. Hy is getroud met Sandra wat ook in die onderwys is en die egpaar het twee kinders, Kaelyn (14) en Devin (8). Botha (42) is op 2 November as hoof by Hoër Volkskool aangestel.

Waar woon jy?
Ek woon tans nog in Pretoria, maar verhuis einde Desember na my geboortedorp, Heidelberg.

Gee ’n kort beskrywing van jou loopbaan in die onderwys tot en met jou aanstelling as die hoof van Hoër Volkskool.
Ek het by Hoërskool Silverton in 2001 begin as onderwyser, in 2007 word ek departementshoof by Hoërskool Oos-Moot en in 2016 word ek adjunkhoof by Hoër Tegniese Skool John Vorster.

Wat sal jy altyd van jou tyd by HTS John Vorster onthou?
Die 100 persent slaagsyfer in 2018 met al ons leerders met wiskunde/tegniese wiskunde en wetenskap/tegniese wetenskap.

Die nuwe pos sal sekerlik uitdagings bied. Hoe gaan jy te werk om uitdagings te hanteer?
Die belangrikste is om altyd kalm te bly en die probleem uit verskillende hoeke te bekyk. Ons as skoolbestuur sal dit bespreek en die beste oplossings op die tafel sit. Indien die oplossing geïdentifiseer is, sal ons beplan hoe om dit te implementeer.

Wat sal jou onmiddellike planne vir die skool wees?
Dit gaan regtig baie goed met Hoër Volkskool en daarom sal ek die volgende ses weke gebruik om ons personeel te leer ken en leemtes te identifiseer.

Wat is jou benadering ten opsigte van dissipline in ’n skool?
Dissipline is saam jou geloof die basis van sukses in enige uitdaging. Daarom streef ons daarna om gebalanseerde, goed opgevoede en gedissiplineerde leerders die toekoms in te stuur.

Hoe sal jy jou bestuurstyl beskryf?
Ek glo in ’n demokratiese bestuurstyl, maar jy moet as hoof weet wanneer om ’n outokratiese besluit te neem en die finale besluit moet altyd vir die skool voordelig wees.

Wat sal jou boodskap aan die personeel van die skool wees?
Die opvoedingstaak bly die belangrikste, dus is dit goed om ’n kind te leer tel, maar om hom te leer wàt tel is, is belangriker.

Sport en kultuur speel ’n belangrike rol in elke skool. Dink jy daar word vandag nog genoeg klem gelê op die akademie?
By Hoër Volkskool is ons kernbesigheid akademie en veral in die grendeltydperk het ons personeel baie moeite gedoen om ons leerders op datum te hou. Die leerders wat hard gewerk het pluk nou die vrugte.

Wat doen jy om te ontspan en waar hou jy graag vakansie?
Die skool is my stokperdjie en daarom geniet ek dit om my vrye tyd aan my gesin te spandeer, maar ek mag dalk binnekort begin gholf speel. Ons geniet die see.

Wat is jou bookdskap aan leiers van die toekoms?
Daar is ’n toekoms in ons land. Moet nie die verlede blameer vir die huidige nie en bou aan ’n goeie toekoms.

 

Related Articles

Back to top button