Local newsNews

Trane van blydskap vir Boshof boere

Tonne bale voer is op 30 Oktober na die boere in Boshof aangery.

Die boere-gemeenskap van Grootvlei, Nigel en Balfour het saam gestaan om ongeveer 12 trokke gelaai met tonne bale voer aan te ry na AfriForum in Boshof om dit onder die boere te verdeel wat honderde stuks vee, wild, huise en minstens 200 000 hektaar grond in die onlangse brande verloor het.

Die brande het vermoedelik ontstaan nadat betogers buitebande op die R708-pad aan die brand gesteek het. Altesaam 7 000 boere en plaaswerkers is deur die brande geaffekteer.

Henk Holtzhausen wat op Grootvlei boer het gereël om 300 bale voer vanaf sy plaas te skenk.

“My dogter het besluit om op sosiale media te noem van die skenking wat sal deurgaan Boshof toe en binne twee ure was daar meer as 200 mense wat gereageer het,” het Henk vertel.

Henk Holtzhausen wat 300 bale voer van sy plaas in Grootvlei geskenk het.

Hulp is verleen deur skenkings van voer, malasse vir soetgrond, mannekrag, kruideniersware en die vervoer van alles met trokke en sleepwaens. Altesaam 2 340 bale voer is geskuif.

“Ek was oorstelp met die hulp en bystand van die gemeenskap. Dit het gewys dat as boere in krisis is ander boere kan help en so saam staan om te doen waarvoor ons die liefste is, boer,” het Henk gesê.

Die trokke het Vrydagmiddag omstreeks 1nm uit Heidelberg vertrek in a konfooi wat Saterdagoggend in Boshof aangekom het.

“Ons is diep dankbaar vir Henk en elkeen wat saamgestaan het om die Boshof boere-gemeenskap te help,” het Johan Steenkamp, ’n AfriForum verteenwoordiger in Boshof, gesê. Die skenkings is in die AfriForum depot verdeel volgens die behoeftes van boere en plaaswerkers.

“Ons was besig om die skenkings te verdeel en pakkies op te maak toe ons ’n gedruis van enjins en toeters hoor. Dit was nog ’n konfooi met skenkings vanaf 17 omliggende AfriForum takke,” het Johan vertel.

“Dit was ’n emosionele dag van blydskap en dankbaarheid vir die boere in die Boshof omgewing,” het Johan bygevoeg.

Trane van blydskap het gerol toe die boere in Boshof skenkings van tonne bale voer, malasse en kruideniersware ontvang het.                 

“Om as boer ’n ander boer te help in ’n krisis is ’n seëning van Bo waarvoor ek en die Grootvlei gemeenskap baie dankbaar is”

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button