Local newsNews

Kruis toe in November

Ná maande van wonder, twyfel en kommer, is dit nou blydskap en vreugde, want vanjaar se Kruistog gaan voort.

Alhoewel die Kruistog in vorige jare wel vroeër in die jaar plaasgevind het, het inperkings dit onmoontlik gemaak, maar die organiseerders het eenvoudig net nie tou opgegooi nie en is dit bevestig dat die jaarlikse Kruistog nou op 7 November sal plaasvind.

Dit is noodsaaklik dat streng voorsorgmaatreëls gehandhaaf word tydens die dag om steeds verspreiding van die Covid-19 virus hok te slaan.

Dit behoort egter glad nie ‘n afskrikmiddel vir deelname te wees nie, aangesien die hele dag in die opelug afspeel waar honderde Heidelbergers en besoekers van omliggende dorpe by die voet van Heidelberg se koppie bymekaarkom vanaf 9vm, voordat die staptog tot bo by die kruis op jou eie tempo saam met jou gesin en vriende afskop. “Kom stap saam met ons die koppie uit tot bo by die kruis in herdenking en lof van Jesus se kruisiging,” nooi Poppie, wat een van die jaarlikse Kruistog-organiseerders is.

Poppie bevestig dat deelnemers enige tyd tussen 9vm en 1nm kan begin stap en beloof dat die dag ‘n onvergeetlike ondervinding gaan wees. Daar is ook vervoer beskikbaar vir persone wat nie die pad te voet kan of wil aandurf nie, hetsy dit as gevolg van ouderdom of gesondheidskwale is.

Jy hoef nie die gebedstasies of aanbidding bo-op die koppie mis te loop nie, jy sal veilig tot bo en weer terug na die beginpunt geneem word na afloop van die verrigtinge.

Judith Kia is vanjaar weer by die kruistog. Sy gaan saam met Johan Anker en Zack Booysen die aanbidding en lofprysing op die koppie by die kruis lei.

Verskeie gebedstasies sal al langs die roete aangebring word waar persone na hartelus kan stop vir gebed en interaksie.

Bo-op die koppie sal aanbidding en lofprysing gelei word deur Johan Anker, Judith Kia sowel as Zack Booysen. Verversings word ook te koop aangebied vir diegene wat nie ‘n koelboks al die pad wil saamdra vir lafenis nie.

Deelnemers word aangeraai om ‘n hoed, sonskerm en beskermde drag teen die somerson in te pak. Maak seker dat jy genoeg water by jou het sou jy nie verversings wil aankoop langs die roete nie.

Hierdie is ‘n wonderlike geleentheid vir Heidelbergers om as gesin weer iets saam te doen in die buitelug en terselfdertyd lof wil bring aan hul hemelse Vader.

Vir meer inligting rakende vanjaar se Kruistog kan Poppie by 082 854 4025 geskakel word.

Related Articles

Back to top button