Local newsNews

Geliefde van Nigel kort na 100ste verjaardag oorlede

Marie Coetzee wat op 27 Julie haar 100ste verjaardag gevier het, is op 8 September ná 'n beroerte oorlede.

Sy was die afgelope 15 jaar ‘n inwoner van Nigel Tuiste vir Bejaardes en bekend vir haar kreatiwiteit. Sy het haar besig gehou met skilder, borduur- en naaldwerk en was ook ‘n bakker van formaat.

“My ma was baie netjies en ‘n perfeksionis,” het haar dogter Maryna vertel. Marie het in Betlehem grootgeword het en was vir die afgelope 25 jaar ‘n inwoner van Nigel.

Sy was ‘n huisvrou wat haar aan die opvoeding en sorg van haar kinders toegewy het. Sy was vir 64 jaar met Cobus Coetzee getroud wat deur die familie as ‘n rolmodel-huwelik beskryf is.

Cobus is 17 jaar gelede oorlede. “Ouma Marie was ‘n regte dame. Nooit was daar ‘n haar uit plek of kleurkombinasie wat nie gepas het nie,” het Mariza Gouws, (kleindogter) gesê.

Alhoewel Covid-19 die planne vir Marie se 100ste verjaardag ingeperk het, kon ‘n handjievol mense haar vir ‘n kort rukkie op die spesiale dag sien.

“Ons kon saam met Ouma 100 geseënde jare vier en het haar met ‘n plakboek van 100 bladsye verras met foto’s, briefies en sentimentele items wat haar lewe herdenk het terwyl sy nog by ons was. “Van die briewe en foto’s gaan so ver terug as die 1940s.

Dit was ‘n voorreg om die dag saam met haar te kon spandeer. Ons sal daardie dag vir altyd in ons harte koester,” het Maryna gesê.

Marie se begrafnisdiens het op 17 September vanuit die Gereformeerde Kerk in Nigel plaasgevind.

Related Articles

Back to top button