Musikale fees beloof om groot pret te wees

“Die span van CO Productions doen gewoonlik een keer ’n jaar ’n produksie wat al ons kunstenaars insluit,” het Corné Oosthuizen, stigter en besturende direkteur van CO Productions, gesê.

Wanneer Lockdown Lekkerte op 3 Oktober plaasvind sal kykers ’n musikale fees van treffers in die gemak van hul eie huise kan geniet as Robbie Wessels, Leah, Willem Botha, Reynardt Hugo, André Schwartz, Lee Scott, Bianca le Grange en David Johnson almal saam in dié produksie gesien kan word.

“Die span van CO Productions doen gewoonlik een keer ’n jaar ’n produksie wat al ons kunstenaars insluit,” het Corné Oosthuizen, stigter en besturende direkteur van CO Productions, gesê.

“Dié konsert het ’n instelling geword en gaste kan jaarliks uitsien na groepnommers en duette asook elke kunstenaar se individuele treffers. Weens Covid-19 en die gepaardgaande inperkings kon dié geleentheid nie vanjaar realiseer nie. Daarom het ons dus besluit om dit aanlyn te neem,” het Oosthuizen verduidelik.

Wat dié aanlynvertoning uniek maak is die verwerkings wat die kunstenaars saam doen wat nie sommer gou weer gesien sal kan word nie. Liedjies wat die siel sal aanraak en die voete sal laat jeuk is ook ingesluit tesame met die humoristiese aanslag wat van dié kunstenaars so gewild maak.

Een van die vele hoogtepunte van Lockdown Lekkerte is ook die verwerking van die enkelsnit, From Now On, vanuit die bekroonde film The Greatest Showman, wat tydens dié produksie deur die kunstenaars vertolk word nadat hulle dit vroeër vanjaar tydens vlak vyf van inperking gedurende isolasie opgeneem en vrygestel het.

“Ek sien baie uit na Lockdown Lekkerte en die kuier saam met my musiekvriende terwyl ons mense so by die huis kan vermaak,” het Wessels gesê.

“Ons weet almal trek swaar na afloop van die inperkings en daarom het ons besluit om kaartjiepryse bekostigbaar te maak. ’n Skamele R50 verseker jy kan deel in die aksie en van die land se top kunstenaars in een konsert geniet,” het Oosthuizen vertel.

Die vertoning vind op 3 Oktober om 7nm plaas.

Kaartjies is slegs by Quicket (https://bit.ly/LockdownLekkerte_Verskeie) beskikbaar.

Vir meer inligting skakel Vicki Rothman by 012 751 3601 of 064 502 1160 of stuur ‘n e-pos na vicki@coproductions.co.za

Related Articles

Back to top button