Local newsNews

Heidelberg kragbokse

Stropers is weer aktief besig om elektriese kragbokse en substasies in verskeie dele van die dorp oop te breek om smeltdrade te steel. Besigheidseienaars en inwoners het al duisende rande se skade as gevolg hiervan gelei. Smeltdrade het feitlik geen herverkoopwaarde nie en die klein koperkontak wat deel vorm van die smeltdraad, is waarskynlik die enigste rede vir die beskadiging van die kragboks. Tog is daar 'n skerp toename in dié misdaad.  Die eerste voorval het op 21 Augustus plaasgevind toe daar by 'n kragboks op die hoek van Marais- en Van der Westhuizenstraat gepeuter is wat 'n ontploffing in die kragboks tot gevolg gehad het en verskeie wonings in die omtrek is daarna in donkerte gehul. 

Die spreekkamers van Dr Botes en Hartley in Maraisstraat het ook weens die kragskuwing skade gelei. “Ek het Saterdagoggend spreekkamer toe gegaan en gesien dat die kragboks gebrand het,” het Botes gesê. Bykans alle toerusting wat aan die fase 1 van die hooftoevoerpaneel binne die spreekkamer gekoppel was, is beskadig. Vier spreekkamers se lugreëling, ‘n pasiëntstoel, tandheelkundige toerusting asook die elektroniese hek-en motorhuisdeur is beskadig. Die presiese omvang van skade is nog nie bekend nie, maar volgens Dr Botes beloop dit honderde duisende rande. ‘n Soortgelyke voorval het op 22 Augustus op die hoek van HF Verwoerd-en Uniestraat plaasgevind waar daar ook met die kragboks gepeuter is.

Die kragtoevoerpaneel by Dr Botes en Hartley se spreekkamers wat as gevolg van ‘n kragskuwing gebrand het en duisende rande se skade veroorsaak het.

Woedende inwoners van Jameson Park was ook op 22 Augustus vir bykans 36 ure sonder elektrisiteit. Talle klagtes is by Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) elektrisiteit afdeling ingedien oor voortdurende kragonderbrekings. “Met elke klag word werkers na die gebied gestuur, maar die kragkwessies word nie opgelos nie,” het Retha Vogel-du Plessis (Jameson Park inwoner) gesê. Sy het bygevoeg dat volgens die LPM-werkers kan die kragstasie nie die vraag na elektrisiteit kan hanteer sedert die behuisingsontwikkeling in die gebied nie. HERAUT het by die woordvoerder van LPM, Katleho Seaga navraag gedoen en wag op ‘n amptelike antwoord. Die gemeenskap kan ‘n gepeuter of beskadiging van kragbokse by LPM se elektrisiteit departement aanmeld deur Boikokobetso Mofokeng by 073 482 6385 te skakel of stuur ‘n e-pos na boikokobetso.mofokeng@lesedi.gov.za of johanr@lesedi.gov.za

Related Articles

Back to top button