Local newsNews

Beoogde steenkoolmyn: Boere en gemeenskap skop vas

''Ons kan nie steenkool eet of drink nie!"

Boere met plase in en om die beoogde Anglo American steenkoolmyn en lede van die Kudung gemeenskap het ‘n duidelike waarskuwing aan die mynbase uitgestuur dat mynbedrywighede nie hier geduld sal word nie. “Ons sal die myn afbrand as dit moet,” het een van die boere laat hoor.

Belanghebbendes het op 17 November met verteenwoordigers van Anglo American Inyosi Coal (Pty) Ltd en die omgewingspesialiste van Golder Associates Africa in Heidelberg vergader.

 

Voorleggings

 

Die vergadering is afgeskop met lede van Golder wat voorleggings aan die vergadering gedoen het. Die sprekers het probeer om die beswaardes se vrae te antwoord. Verskeie aspekte soos water, stof, lug- en geraasbesoedeling is weerlê en daar is veral klem gelê op die werksgeleenthede wat die myn aan plaaslike inwoners sal verskaf.

 

Mnr Etienne Roux van Golder Associates Africa doen 'n voorlegging oor die omgewingsimpakstudie van die voorgenome steenkoolmyn.
Mnr Etienne Roux van Golder Associates Africa doen ‘n voorlegging oor die omgewingsimpakstudie van die voorgenome steenkoolmyn.

 

Besware

 

Die boere en die gemeenskap van Kudung het egter beswaar aangeteken en gevoel dat die volle waarheid nie uitgekom het nie. Hulle voel ook dat werkers wat by die myn aangestel gaan word, gespesialiseerde werkers is wat nie uit die plaaslike gemeenskap sal kom nie.

 

 

Die Kudung gemeenskap is bekommerd oor die grond wat hulle ‘n paar jaar gelede ontvang het, en waarop hulle nou boer. Midah Moloto (verteenwoordiger) van Kudung het dit duidelik gestel dat dié gemeenskap hande met die omliggende boere wil vat en nie te vinde is vir ‘n steenkoolmyn in hul omgewing nie.

 

 

Die beswaardes is veral bekommerd oor die langtermyn impak wat die myn op die omgewing en boerdery gaan hê. Jacob Khumalo wou weet wie gaan vir die beskadiging van die omgewing pa staan wanneer die myn uitgewerk is. Hy sê hy weet watter skade so ‘n steenkoolmyn kan aanrig omdat hy in Rustenburg gewoon en gewerk het.

 

Van die mense het uitgeroep dat hulle nie steenkool kan eet of drink nie.

 

Die beoogde myn sal ‘n gebied van 14 367ha beslaan wat tussen Karan Beef en Grootvlei geleë is. Hiervan sal die bogrondse afgesperde deel sowat 200 ha beslaan. Die myn beoog om vir 22 jaar lank 5 miljoen ton steenkool per jaar ondergronds te myn. Dit sal hoofsaaklik steenkool aan Eskom se Grootvlei Kragstasie verskaf. Belangstellendes het tot 4 Desember om kommentaar op die omgewingsimpakstudies te lewer.

Myn Kaart

Die omgewingsimpakstudie sowel as omgewingsbestuur program kan op Golder Associates Africa se webtuiste besigtig word by https://www.golder.com/af/en/modules.php?name=Pages&sp_id=1817

 

Vir meer besonderhede kan Faan Botha (voorsitter: Bloekomspruit Boerevereniging) by 079 820 8611 of Mari Boshoff (VF Plus raadslid) by 072 547 0481 geskakel word.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button