Local newsNews

Heidelberg-egpaar deel Covid-19 ervaring

Tinus (49) en Magda (45) Potgieter is dit albei eens dat die Coronavirus nie ligtelik opgeneem moet word nie en wil die publiek waarsku om moontlike simptome daarvan nie te ignoreer nie.

Hulle praat immers uit ervaring nadat hulle ongeveer 12 dae in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal deurgebring het. Dié egpaar sterk tans tuis (in kwarantyn) aan nadat hulle op 8 Junie positief vir Covid19 getoets het.

“Ek het eerste siek geword en gedink dit is net ‘n gewone verkoue. My kop was seer en ek het liggies gehoes. Toe word Tinus siek, maar hy het gekla dat sy keel seer is en ons albei het hoë koors ontwikkel,” het Magda hul aanvanklike simptome beskryf.

Na ‘n paar dae het die egpaar by hul huisdokter om hulp gaan aanklop en medikasie vir die behandeling van verkoue ontvang, maar hulle is streng gemaan om nie die simptome te ignoreer nie, aangesien Magda ‘n asmalyer en Tinus ‘n diabeet is. Kort daarna het die simptome vererger. Dit was veral die branderige oë, ongelooflike lyfseer en swaar gevoel in die kop wat hulle platgetrek het en by hul tweede besoek aan die dokter, het hy onmiddellik ‘n Covid-19 toets aanbeveel.

“Hoewel ons ernstig siek was, het toetsuitslae tog as ‘n skok gekom. Tinus het dit vermoed, maar die gedagte dat ons die gevreesde Coronavirus onder lede het, het nie regtig by my opgekom nie,” het Magda gesê.

Ná ontvangs van die toetsuitslae is die egpaar op aanbeveling van hul dokter dadelik opgeneem enis binne twee ure na die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal oorgeplaas.

“Wanneer ek terugdink, voel dit of ‘n paar dae van my lewe uitgewis is. Daar is ‘n vaagheid waarin ek nie alles kan onthou nie, maar ek weet daar was ‘n oomblik wat ek gedink het: ek gaan sterf!”

Magda sê hulle is vandag dankbaar om te leef en het die mediese personeel vir hul toewyding en onbaatsugtige diens geloof.

“Ons is ook met bemoedigende boodskappe en gebede deur vriende en familie oorval en wil elkeen vir hul ondersteuning gedurende hierdie tyd bedank,” het Magda afgesluit.

Die Potgieters se seuns Sias (24) en Dirk (26) wat in dieselfde huis as hulle woon, het negatief vir Covid-19 getoets en volgens Magda is daar geen duidelikheid waar of wanneer hulle die virus opgedoen het nie.

Related Articles

Back to top button