Local newsNews

Dr Opperman groet praktyk na 14 jaar

Dr Michael Opperman wat die afgelope 14 jaar na plaaslike inwoners se mondhigiëne en tandheelkunde omgesien het, het die praktyk onlangs weens gesondheidsprobleme vaarwel geroep.

Nigel inwoners het hom in 2005 leer ken toe hy as pas afgestudeerde student van die Universiteit van Pretoria saam met sy eggenoot, Samantha sy intrek in die dorp geneem het.

Hy het in 2006 sy praktiese jaar (staatsjaar) in Leandra voltooi en aanvanklik by die tandheelkunde praktyk in Laversstraat as tandarts begin praktiseer. Aan die einde van 2008 het die praktyk na Joubertstraat verskuif.

Dr Opperman het in 2018 ekseem (irritant kontak dermatitis) op sy hande ontwikkel wat deur die langdurige dra van rubber handskoene vererger het. Hy kon tot op datum geen werkbare oplossing vind nie en moes noodgedwonge die besluit neem om sy kliniese aktiwiteite grootliks op te gee.

“Ek het die besluit om my praktyk op te gee, met ‘n swaar hart geneem, maar wanneer een deur sluit, gaan die volgende oop en ek het nou die geleentheid om my professie as tandarts akademies voort te sit,” het Dr Opperman gesê.

Hy onthou toe hy sy intrek in die dorp geneem het, het hy gedink Nigel is ‘n een-perd dorp en die perd is lankal dood, maar tog het die dorp en sy inwoners diep in sy hart gekruip.

Intussen het sy gesin ook gegroei en sy dogter Zania (13), seun Marcel (11) en dogter Marianke (6) woon ‘n plaaslike laerskool by.

“Dit was vir my ‘n voorreg om Nigel as tandarts te kon dien. Ek gaan elke pasiënt en my personeel geweldig mis,” het hy afgesluit.

Related Articles

Back to top button