Local newsNews

Donasies vir Lien se lapmaskers dek mediese uitgawes

Dit was die ooglopende uitbuitery in die verkoop van gesig maskers om mense teen die gevreesde Covid-19 te beskerm wat Lien Benadie genoop het om haar naaldwerkmasjien en oorskiet lap nader te trek.

Aan die begin wou sy vir haar en haar gesin ‘n paar lapmaskers maak, maar toe sy haar oë uitvee het sy dag in en dag uit voor die masjien gesit en stik.

Die blote gedagte dat honderde mense nie ‘n masker kan bekostig nie, was haar dryfveer en sedert Maart het sy al meer as 5 000 maskers gemaak, wat sy hoofsaaklik gratis aan Nigel inwoners uitdeel.

“Hoeveel kos een masker?” wou HERAUT by haar weet.

“Ek verkoop nie maskers om geld te maak nie, maar sou iemand ‘n donasie wou gee, sal ek dit nie van die hand wys nie. Ek verwelkom ook skenkings van material en rek deur inwoners, want op die einde van die dag behoort elkeen ten minste een masker te hê,” het sy gesê.

Intussen het sy haar sitkamer in ‘n naaldwerkkamer omskep, waar sy die grootste gedeelte van haar dag agter die naaldwerkmasjien spandeer.
Met die skole wat moontlik volgende maand vir senior leerders heropen, het die projek uitgebrei en beplan Lien nou om maskers met skole soos Hoërskool John Vorster (Vossies), Laerskool Tini Vorster, Laerskool Hannes Visagie (Sagies) se name daarop, te maak.

“Die skool se naam word op die masker gedruk en om daardie rede moet ek dit verkoop, maar ek weet daar is baie mense wat nie R25 kan bekostig nie en vir hulle sal ek ‘n gratis masker gee. Ek kan egter net op bestellings werk,” het sy verduidelik.

Om die drukkoste te dek, verkoop sy dié maskers teen R25 elk, maar belangstellendes word herinner om vroegtydig hul bestellings te plaas.
Agter Lien Benadie skuil daar ‘n verlede waarvan min mense weet.

Dié 45-jarige samaritaan is tans werkloos en staar elke maand astronomiese mediese uitgawes in die gesig. Sy is op 4 Maart 2017 met borskanker gediagnoseer, waarna ‘n dubbel mastektomie gevolg het. Ná ses weke van chemoterapie het sy so siek geword dat sy hartversaking gekry het en is die behandeling onmiddellik gestaak.

“Op die oomblik is die kanker in remissie, maar ek moet elke dag medikasie gebruik.”

Sy het nederig teenoor HERAUT erken dat sy die korporatiewe industrie intussen genader het in die hoop om handelsmerk maskers te verkoop, sodat sy haar mediese onkoste kan dek.

“Ek wil nie hê mense moet my jammer kry nie en ek maak nie maskers vir erkenning nie. Ek het ‘n tweede kans in die lewe gekry en ek wil dit tot die uiterste inspan om ander te help. Ek weet hoe dit voel om in vrees te lewe. Al glo ‘n mens in jou hart dat Jesus jou sal beskerm, is daar maar knouende onsekerheid en vrees,” het sy afgesluit.

Vir bestellings, skenkings en navrae, skakel Lien by 084 398 0002.

Related Articles

Back to top button