Local newsNewsBreaking News

Heidelberg leerders kry akademiese hulp ten spyte van inperking

Alles moontlik word gedoen dat veral matrieks jaar voltooi.

Hoër Volkskool het ‘n beroep op sy matriekleerders gedoen om die inperkingstydperk te gebruik om vir die akademiese jaar voor te berei. Mnr Neels de Villiers (waarnemende hoof) sê onderwysers en leerders het reeds in die eerste kwartaal hard gewerk om te sorg dat leerwerk vooruit gedoen is.
‘n Nuusbrief gaan more (1 April) aan alle ouers en leerders gestuur word, waarin volledig beskryf word wat van veral Graad 11 en Graad 12 leerders verwag word.
Riglyne is ook aan leerders gegee voor die skool gesluit het. Bykomende inligting oor die Junie-eksamen asook inligting oor leeropsies soos video opnames vanaf onderwysers, internet dryfskakels, Wolkskool, You Tube videos en Gauteng Departement van Onderwys se lesse op DSTV om nuwe lesinhoud te verduidelik gaan ook gestuur word.
Mnr De Villiers sê onderwysers kommunikeer reeds direk met hul klasse via WhatsApp.
Die moontlikheid gaan later bespreek word (afhangende van die tydperk van inperking) om skooldae te verleng en die Julie- en Oktobervakansie vir winter- en lenteskool aan te wend.
Hy het ouers se samewerking gevra om toe te sien dat leerders ten minste vyf ure ‘n dag aan akademie spandeer.
“Die inperking mag nie ‘n negatiewe impak op jou uitslae hê nie,” het Mnr de Villiers afgesluit.

Mnr Steven Nel (hoof) van Mountain View High School het ook bevestig dat maatreëls in plek gestel is om hul leerders met die akademie tydens die inperking van hulp te wees.

Die Minister van Onderwys Angie Motshekga het haar ook sterk uitgespreek dat die matrieks hul akademiese jaar moet voltooi. Sy het verlede week in ‘n verklaring gesê: “By hook or by crook, the Class of 2020 will graduate this year”.

Related Articles

Back to top button