Local newsNewsUpdate

Bekende in motorfietskringe sterf

Heidelberger sterf in motorfietsongeluk met vragmotor.

Errol Lindeque (81) het op 9 Maart gesterf toe hy met sy motorfiets in ‘n botsing met ‘n vragmotor betrokke was.
“Motorfietse was Errol se lewe en hy was besig om sy passie uit te leef toe hy gesterf het,” het sy vrou Charlotte gesê.
Die ongeluk het by die kruising van Makapanstraat en die Groenfonteinpad naby Multivac gebeur. Charlotte sê Errol het die vorige dag ‘n nuwe motorfiets gekoop en was op pad terug van Springs af toe die ongeluk gebeur het. Wat presies gebeur het, is onduidelik, maar die ongeluk het plaasgevind terwyl beurtkrag toegepas is en die verkeerslig buite werking was.
Hy was ‘n spesiale, sagte mens wat sy vrou op die hande gedra het. Errol het geglo as jy ‘n motorfiets wil hanteer moet jy fiks wees en hy het drie keer ‘n week by die gimnasium geoefen. Hy was een van die stigterslede van die WEB (Wakend en Biddend) Motorfietsklub in Heidelberg.
Charlotte sê hy was baie veiligheidsbewus en het met jong motorfietsryers geraas wanneer hulle sonder beskermende kleredrag gery het. Sy verstand was ook baie skerp en hy was lief vir tuinmaak. Errol was ‘n takelaar van beroep wat voor sy aftrede by verskeie myne in die land gewerk het. Hy het sy twee seuns in ‘n brandongeluk verloor toe hulle agt en nege jaar oud was. Sy eerste vrou Minda is jare gelede aan kanker oorlede.
“Die tragiese gebeure in Errol se lewe het van hom ‘n minsame mens gemaak wat vir sy medemens omgegee het,” het Charlotte gesê.
Errol se roudiens het op 17 Maart vanuit die Sedaven SDA Kerk plaasgevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button