Local newsNewsUpdate

Span Sweeney is sterkste in omtrek

Sterkgesin is Heidelberg se trots.

Die Sweeney-gesin is Heidelberg se sterkste gesin – letterlik. Pa André, ma Vallerie en Melissa Roux (19) neem aan sterkman (en -vrou) kompetisies deel en het reeds groot welslae in dié kompeterende sport behaal.

Nasionaal en selfs internasionaal maak hulle opgang en plaaslik ken inwoners hulle waar hulle gereeld vertonings lewer. Dis veral die troktrek-item wat mense na hul asems laat snak. Dit is nie net André wat ‘n vragmotor van ‘n hele paar ton kan trek nie, maar hy het ook vir Vallerie en Melissa geleer om dié kragtoertjie te bemeester.

 

Andrè is sedert 2007 bedrywig in die kragman sport en was in 2017 die tweedesterkste man in die land in sy afdeling. Spoedig het die gogga ook vir Vallerie gebyt en met haar eerste Suid-Afrikaanse kampioenskappe in 2012 het sy in algehele tweedeplek (sy het eersteplek met ‘n halwe punt misgeloop) geëindig. Die jaar daarna het sy gewen en verskeie titels sedertdien ingepalm. Sy was die eerste vrou in Suid-Afrika wat 200kg dooiegewig kon optel. Asof dit nie genoeg was nie, het sy net daarna 230kg gelig.

Melissa het in haar ouers se voetspore gevolg en reeds in die hoërskool haar stempel afgedruk. Sy het dadelik begin om kompetisie vir Vallerie te bied en het verlede jaar die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in die dames ope-afdeling gewen.

Tydens die laaste kompetisie op 14 Desember het ma en dogter mekaar weer die stryd aangesê. Dié slag het Vallerie die Highland Games wat in KwaZulu-Natal aagebied is, gewen met Melissa in tweedeplek.
André het in November sy haksening tydens ‘n kompetisie geskeur en is tans buite aksie. Hy is steeds hard besig om die lede van ‘Team Sweeney’ af te rig.

Die span het nog ‘n lid bygekry met die 18-jarige Shane Bekker (Melissa se vriend) wat tot die sport toegetree het. Hy neem in die o/105kg gewigsafdeling vir mans deel en het vierde tydens die Highland Games geëindig.
Die span berei hulle nou voor vir die Cansa Shavathon in Roodepoort op 29 Februarie waar hulle vertonings sal lewer.
Heidelberg sit met Suid-Afrikaanse kampioenne in hul midde, maar die gesin voer ‘n opdraande stryd om borge te kry sodat hulle kan bekostig om aan nasionale en veral internasionale kompetisies deel te neem. Enige besighede of individue wat hiermee kan help, kan Vallerie by 076 852 1516 te skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button