NewsSchools

VF Plus eis afskaffing van aanlyn-plasingstelsel

Die VF Plus eis dat die Gautengse aanlyn-plasingstelsel vir skole onmiddellik afgeskaf moet word.

Die VF Plus eis dat die Gautengse aanlyn-plasingstelsel vir skole onmiddellik afgeskaf moet word. Volgens Adv. Anton Alberts (VF Plus: nasionale voorsitter) is daar tans steeds duisende Gautengse leerlinge wat nog nie geplaas is nie weens die geweldige administratiewe rompslomp wat geskep is deur die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi se aanlyn-plasingstelsel.

“Daar heers groot onsekerheid onder die ongeplaaste leerlinge en hul ouers oor of hulle in die korrekte skole geplaas sal word aangesien plasings eers teen Woensdag gefinaliseer behoort te word, volgens die Gautengse onderwysdepartement. In kort is die stelsel ‘n skepper van chaos en daar moet teruggekeer word na die vorige bedeling waar ouers by skole self aansoek kan doen vir die plasing van leerlinge,” het Alberts gesê.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat die stelsel nie na behore funksioneer nie en geskep is met die motief om deur middel van kunsmatige manipulasie, Afrikaanse skole se demografie te verander en sodoende die skole se Afrikaanse karakter te vernietig.

Die VF Plus het daarom besluit om te vra dat die stelsel ondersoek moet word deur die Openbare Beskermer (OB) en het klagte daaroor by die OB ingedien.

Die VF Plus het verlede jaar ook indringende skriftelike vrae oor die stelsel in die Gautengse wetgewer aan Lesufi en sy departement gerig. Interessant genoeg blyk dit dat die vrae nie verlede jaar beantwoord is nie en die party sal dit daarom hierdie jaar weer indien.

“Die VF Plus gaan vanjaar verskeie aksies loods om die skoolstelsel in Gauteng te verbeter en die politieke invloed van Lesufi te neutraliseer,” het Alberts afgesluit.

 

 

 

Related Articles

Back to top button