CrimeNewsUpdate

Heidelberg dominee laat hom nie onderkry deur plaasaanval nie

Ds Jan Schroeder is gewurg en geskop.

“Ek het gedink hulle gaan my keel afsny, maar ek is dankbaar dat die Vader my bewaar het,” so vertel Ds JAAA (Jan) Schroeder aan HERAUT nadat hy op 6 Desember ‘n plaasaanval oorleef het.

Ds Jan (86) was Sondag (8 Desember) ondanks ‘n gekneusde lyf agter sy preekstoel. Hy het tydens die diens gesê dat hoewel hy en sy vrou Lettie (79) getraumatiseer is, is hulle dankbaar dat hulle nog lewe.

Ds Schroeder was op 6 Desember omstreeks 17:00 in die melkstalle op sy plaas te Boschfontein op die Vereeniging-pad besig toe vier mans met balaklawas hom oorval het. Hy sê hy het net ‘n skaduwee gesien, toe gryp hulle hom en sleep hom na buite.

Hy is op sy maag neergegooi en sy hande en voete is met kabelbinders vasgebind.

 

“Hulle het my kop in die grond gedruk en my begin wurg. Ek het gevra wat hulle soek en dat ek my samewerking sal gee, maar hulle het nie ‘n woord gesê nie,” het Ds Jan vertel. Die aanvallers het hom ook geskop.

 

Lettie wat in die huis was, het die aanval gesien en dadelik die deure gesluit. Sy het die alarm geaktiveer en ‘n vriend van die gesin geskakel.

Volgens Kaptein Thivhulawi Tshilate (woordvoerder) van Heidelberg SAPD het een van die aanvallers die dominee vasgepen, terwyl die ander by die huis probeer inkom het. Hulle het egter kort daarna op die vlug geslaan. Kaptein Tshilate sê die aanvallers het ‘n bos sleutels by Ds Schroeder afgevat voor hulle weggekom het.

Heidelberg SAPD-lede op die plaas van Ds Schroeder pas ná hy aangeval is.

 

Gemeentelede het gesê dat Ds Schroeder het ondanks die aanval, sy plek volgestaan en soos altyd ‘n goeie preek gelewer.

Ná kerk, toe die egpaar op die plaas terugkom, het hulle gesien dat daar by ‘n buitekamer ingebreek is. Ds Jan sê die booswigte het die koelkamer en vrieskas oopgebreek en vleis gesteel. Die diewe het op 11 Desember teruggekom en ook by die stalle ingebreek.

Kaptein Tshilate sê niemand is tot dusver aangekeer nie en vra enigiemand met inligting oor die voorval om Heidelberg Speurtak by 016 341 0422/09 of Heidelberg SAPD by 016 341 0343/0372 te skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button