Local newsNews

Taelynn vorder uitstekend

Taelynn is gebore met Bilaterale Mikrotia, wat beteken dat altwee haar ore nie volledig ontwikkel het nie.

Taelynn Shapiro, oor wie HERAUT vroeër vanjaar berig het, vorder wonderbaarlik vir haar ouderdomsgroep. Taelynn is gebore met Bilaterale Mikrotia, wat beteken dat altwee haar ore nie volledig ontwikkel het nie. Sy is tans agt maande oud en vorder soos enige ander baba van dieselfde ouderdom.

Taelynn se goeie vordering is te danke aan die been-geankerde gehoortoestel (BAHA). Tans het sy net een van hierdie toestelle wat dit moeilik maak om klankrigting te onderskei. Taelynn het dringend ‘n tweede toestel nodig sodat haar spraak nie beïnvloed word soos sy ontwikkel nie. Op die oomblik het die Shapiros nie die nodige fondse om die tweede toestel (ongeveer R70 000) te koop nie, dus verstel hulle die posisie van haar gehoortoestel elke dag om haar te help om rigting te onderskei.

Ongelukkig dek die gesin se mediesefonds nie Taelynn se gebrek nie en moet hulle uit eie sak die kostes dra. Die Shapiros het op 2 November die Mikrotia pretstapdag in Johannesburg bygewoon waar hulle met Dokter Duane Mol (oor-neus-en keelspesialis) gesels het. Volgens Dr Mol vorder Taelynn soos enige ander baba van dieselfde ouderdomsgroep.

“Ons is baie tevrede met Taelynn se ontwikkeling tot dusver. Op die oomblik doen die BAHA alles wat gedoen moet word om haar ontwikkeling en spraak op koers te hou. Wanneer Taelynn drie jaar oud is, sal ons die gehoortoestelle permanent aan haar kop (agter haar ore) inplant”, het hy gesê.

Volgens Kenton (30) en Chiarra (25) is daar niks wat hulle sou verander het in die afgelope agt maande nie.

“Net omdat sy anders lyk, beteken dit nie ons gaan haar anders hanteer nie, sy is spesiaal en ons is ongelooflik lief vir haar net soos sy is. Sy is ‘n bondel vreugde en almal is mal oor haar,” het Chiarra vertel. Tot dusver het die Shapiros R36 000 ingesamel, maar sal oor die volgende 10 jaar meer as R1-miljoen nodig hê vir Taelynn se operasies.

Indien enigiemand wil bydra tot die toekoms van die pragtige dogtertjie, kan BackaBuddy onder Taelynn Shapiro aanlyn besoek word.

Related Articles

Back to top button