MunicipalNewsBreaking News

Verkeersligte nie meer kopseer nie

Lesedi reageer vinnig ná navraag en verkeer vloei nou weer.

Verkeersligte in die middedorp wat gereeld buite werking is en veral die drie kruisings in Jacobsstraat langs Heidelberg Mall is ‘n kopseer wat op ‘n stdium gelyk het of dit net nie wil verdwyn nie.

Die verkeerslig op die hoek van Voortrekker- en HF Verwoerdstraat was vir maande buite werking, een van die verkeersligte op die hoek van Voortrekker- en Jacobsstraat is omgery en die verkeerslig in Groenfonteinstraat (langs Multivac op pad na die mall) was ook buite werking. Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) het stoptekens aangebring wat help om die verkeer te reguleer, maar toe die verkeerslig in Jacobsstraat (by die oprit vanaf die N3) buite werking raak is geen verkeerstekens aangebring nie.

Dit was ook nie lank nie of twee voertuie het op 16 Oktober by dié interseksie gebots. HERAUT het verneem dat ‘n kabel op 10 Oktober by dié verkeerslig gesteel is wat deur George Booker (nuutverkose voorsitter van Bergsig GPF) bevestig is.

Advokaat Gugu Thimane (waarnemende munisipale bestuurder) van LPM het by navraag oor die afwesigheid van stoptekens by die donker verkeerslig in Jacobsstraat vinnig reageer en die betrokke departemente gevra om dadelik werk daarvan te maak. Stoptekens is dieselfde dag by die verkeersligte aangebring.

Thimane het gesê dat vragmotors wat die verkeersligte raakry (gewoonlik wanneer hulle nie hul draaie kry nie) die grootste oorsaak van die stukkende verkeersligte is (soos in die geval van die Jacobs- en Voortrekkerstraat kruising). “Hoewel swaarvoertuie (behalwe afleweringsvragmotors wat net in sekere strate toegelaat word) nie deur die dorp mag ry nie, is dit moeilik vir ons verkeersbeamptes om hulle op heterdaad te betrap. Dit is veral snags ‘n probleem wanneer die strate stil is.”

Sy het die versekering gegee dat LPM tans daaraan werk om ‘n beter manier te vind om oortreders vas te trek en dat die probleem snags deur middel van patrollies (op verskillende tye) deur verkeersbeamptes aangespreek gaan word.

Die maatskappye van die vragmotors wat aangekeer is nadat hulle verkeersligte beskadig het, is reeds deur LPM aangespreek en moet vir die skade opdok.

Met HERAUT se navraag het Thimane gesê dat die kontrakteurs verantwoordelik vir die herstelwerk inspeksie gedoen het en verlede week ‘n kwotasie aan die munisipaliteit voorgelê het.

Sy het HERAUT op 17 Oktober in kennis gestel dat die kontrakteurs aan die beskadigde verkeersligte in Jacobsstraat (by die N3-oprit) begin werk het en teen laatmiddag was dit herstel.

Michelle Cloete (inwoner) het ‘n pluimpie met betrekking tot die munisipaliteit aan HERAUT gestuur. Sy sê almal kla altyd oor LPM, maar dat die straatligte in Marshallstraat onlangs herstel is en dat dit nou vir die eerste keer in vier jaar werk. Slaggate in Grahamlaan is ook die afgelope week of twee herstel.

Die verkeersligte in Groenfonteinpad is ook herstel.

Thimane het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om kabeldiefstal of enigiemand wat infrastruktuur beskadig by die polisiestasie by 016 341 0343 aan te meld. Munisipale probleme of klagtes kan aan die verbruikersentrum by 0800 118000 gestuur word.

Related Articles

Back to top button