CrimeLocal newsNews

Ouma en kleinseun oorval, voertuig gevind maar letsels gaan lank bly

"Hulle het gesê dat hulle my ouma al ‘n ruk lank dophou en dat hulle weet wanneer sy ry en wanneer sy by die huis is".

HEIDELBERG – ‘Hulle het gesê dat hulle my ouma al ‘n ruk lank dophou en dat hulle weet wanneer sy ry en wanneer sy by die huis is.” Dit is die woorde van Mathys Strydom (19) nadat hy en sy ouma Alida (74) in haar huis in Vosstraat, Rensburg op 18 Julie beroof is.

 
Mathys was om 11:00 by sy ouma en was op pad dorp toe, toe hy besef dat hy iets vergeet het. Hy het teruggedraai, by die elektroniese hek ingery, die hek agter hom toegemaak en by die huis ingegaan. Hy het nie die sekuriteitshek agter hom gesluit nie omdat hy vinnig sou wees.

 

“Ek het skielik opgemerk dat my ouma se gesig vreesbevange lyk, terwyl sy na iets agter my staar. Toe ek omkyk het ek die vier rowers gesien. Twee van hulle was gewapen,” het ‘n getraumatiseerde Mathys vertel.

 

 

Alida Strydom wys die das waarmee rowers haar vasgebind het. Sy en haar kleinseun Mathys is in hul huis in Vosstraat, Rensburg deur gewapende rowers oorval.

Die rowers het Engels gepraat, maar kon verstaan toe hy met sy ouma Afrikaans gepraat het. Hulle het die twee met serpe, dasse en koorde vasgebind.

 

“Hulle wou weet waar ons die wapens bêre. Toe ek sê dat ons nie wapens het nie, het hulle gesê ons lieg en aggressief geraak,” het Mathys emosioneel vertel.

Die rowers het toe die huis, op soek na waardevolle items omgekeer. Hulle het ook Alida beveel om haar trouring af te haal en te oorhandig.

 
Die mans het ongeveer 40 minute later met Alida se Volkswagen Golf TDI gevlug. Sy kon daarin slaag om tot by haar huisfoon te kom en het haar buurvrou Joke Kruger geskakel en geskree ‘Kom help ons.’ Joke het dadelik op haar GPF radio om hulp geroep en patrolleerders en Crime Stop Sekuriteitsdienste het na die toneel gehaas en die voordeur oop gevind. Hulle het gehelp om die slagoffers los te maak.

 
Joke se eie huis is ‘n paar maande gelede besteel terwyl sy uithuisig was en dieselfde modus operandi is gevolg. Die rowers beskadig die hek se motor waarna hulle dit van die spoor lig om toegang te kry. Ouma en kleinseun was geweldig getraumatiseer en is deur paramedici op die toneel behandel.

 

 

Die rowers het ook Alida Strydom se trouring gevat. Hier kan die das waarmee sy vasgebind is, nog om haar nek gesien word.

 

 

Mathys het sy selfoon in die Golf gelos en die opsporingsein is ingespan om polisie op die spoor van die gesteelde voertuig te lei. Heidelberg polisie het die voertuig op die ou Alberton-pad gevolg, waarna die spoor na Tsakane gelei het. Tsakane polisie het by Heidelberg oorgeneem en die spoor verder gevolg. Die voertuig is verlate in ‘n straat gevind.

 
Kolonel Amanda Viljoen (bevelvoerder) van Heidelberg SAPD het inwoners gemaan om bedag te wees op vreemde en verdagte voertuie en persone. Meld alle verdagte aktiwiteite by die polisie se sektor patrollievoertuie (Sektor 1: 071 675 7396); Sektor 2: 071 675 7295 of 071 675 7292; Sektor 3: 071 675 7296 of 071 675 7294)
asook die GPF aan.
Patrollievoertuie en GPF patrolleerders kan vinnig op noodoproepe reageer.

 

Volg ons op:

 

Related Articles

Back to top button