News

Berge behou momentum

Die Berge het van die afskop af gewys hulle is daar om te wen en het die wedstryd op ‘n hoë noot met ‘n eindtelling van 33-10 afgesluit.

Heidelberg Rugbyklub se eerstespan het op 25 Mei ‘n harde wedstryd teen Daveyton te Noorderlig Gekombineerde Skool se velde gespeel. Die Berge het van die afskop af gewys hulle is daar om te wen en het die wedstryd op ‘n hoë noot met ‘n eindtelling van 33-10 afgesluit.

 
Die span van Daveyton het nie gedink dat Heidelberg só kan speel nie. Na ‘n harde eerste helfte was die telling 21-0 in Heidelberg se guns. In die tweede helfte het die Berge bietjie gaan lê en die span van Daveyton het deur die verdedigingslyn van Heidelberg gebreek en die telling op 21-5 gebring.

 
Hierna het die Berge weer saamgespan en PJ du Toit het gou onder die pale gaan kuier om te verseker dat Heidelberg ‘n bonuspunt ontvang. Daveyton se manne het teruggeveg en weer ‘n drie gedruk.

 
Heidelberg het weer daarin geslaag om in die doodsnikke van die wedstryd nog ‘n drie te druk. Die eindtelling was 33-10 in Heidelberg se guns. Heidelberg se punte is deur (drieë) PJ du Toit (2) Jason van Jaarsveld (1) Leclue Spies (1) en Wayne de Waal (1) aangeteken. Die doelskoppe is deur Jason van Jaarsveld (2) Pinnie Pruis (1) en Pieter Ras (1) se skopskoen aangeteken.

 
Heidelberg Rugbyklub se eerstespan speel op 1 Junie teen Edenvale Panthers en die damesspan teen VUT te JW Luckhoff Hoërskool se sportgronde. Die vrouespan sal om 14:30 afskop en die manne om 15:30. Heidelberg Rugbyklub nooi die gemeenskap om die spanne te kom ondersteun.

 
Die klub spog met vyf dames wat vir die Valke oefenspan gekies is. Hulle is Diana Jansen van Rensburg, Maria Kleynhans, Monique Reynecke, Helen Underhay en Angelique Minnie. Die dames het onlangs aan ‘n naweektoernooi deelgeneem waar Valke-keurders spelers vir die oefenspan uitgesoek het. Heidelberg Rugbyklub nooi belangstellende dames uit om op Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 18:00 tot 20:00 by hul vrouespan aan te sluit.

 
Heidelberg se juniors oefen op Maandae en Woensdae en die senior manne op Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Vir navrae omtrent Heidelberg se rugbyspanne kan Sean Greyling (voorsitter) by 083 611 2581 of Jaco van Rensburg (hoof afrigter) by 074 691 8158 geskakel word.

 

 

Volg ons op:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button