News

Weermagmanne durf ysige water aan vir liefdadigheid

Die ‘Lesotho Ice Swim’ word jaarliks gehou en mense van alle rasse en geslagte neem aan die marathon deel.

Om deel te wees van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag beteken dat jy jou lewe vir jou land gee. Drie lede van die SANW swemspan vat dit egter ‘n stappie verder. Maj JC Pieterse (Tolla) en nog twee swemmers gaan vanaf 28 Julie tot 1 Augustus by Afriski in Lesotho aan ‘n ysswem-geleentheid deelneem.

 
Die ‘Lesotho Ice Swim’ word jaarliks gehou en mense van alle rasse en geslagte neem aan die marathon deel. Die water word ‘n allemintige 0° Celcius en swemmers begin weke voor die tyd hul liggame vir dié swem voorberei deur in ‘n ysbad te sit of lê.

 

Kyk die video hier: Weermagmanne durf ysige water aan vir liefdadigheid

 
Die drie manne van SANW swemspan wat ingeskryf het, is Dr A Mogano, ‘n gemeenskapsdiensdokter in die gebied van die militêre gesondheidseenheid in Pretoria, Kapt Francois du Toit wat ‘n uiterste oopwater-swemmer is (hy het reeds 28 Midmar-myl marathons voltooi) en Maj Pieterse (Tolla) wat deel van die Suid-Afrikaanse Infanterie Formasie in Heidelberg is en self die Midmar-myl al 26  keer voltooi het.

 

Kapt Francois du Toit, Maj CJ Pieterse en Dr A Mogano gaan vanaf 28 Julie tot 1 Augustus saam die ysige water van Afriski in Lesotho aandurf.

 

 

Maj Pieterse gaan vir liefdadigheid  swem en Heidelbergers se hulp word nou benodig. Hy beoog om die fondse aan ‘n liefdadigheidsorganisasie te skenk wanneer hy van Lesotho terugkeer.

 
Maj Pieterse vra dat Heidelbergers ‘n e-pos na hom sal stuur met ‘n organisasie wat hulle voel die donasie verdien, of waar ‘n ernstige nood bestaan. HERAUT sal op ons Facebookblad ‘n meningspeiling plaas met die vyf organisasies wat die meeste genoem is. Vandaar kan Heidelbergers op HERAUT se Facebookblad vir die organisasie stem wat hulle glo dit verdien.

 
Vir verdere inligting oor donasies kan Maj Pieterse by 084 040 8377 geskakel word, of stuur ‘n e-pos na pietersetolla@gmail.com.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button