CrimeNews

Boewe loop hul rieme styf teen polisie

NIGEL - Satij Patel (29) is op 30 Junie tot agt jaar gevangenisstraf, (waarvan vier vir vyf jaar opgeskort is), gevonnis.

Die vonnisoplegging volg nadat lede van Wesrand se Georganiseerde Misdaadeenheid op 27 Mei 2014 by YP Auto Storage toegeslaan en gesteelde items ter waarde van sowat R200 000 gekonfiskeer het. Speur-sersant Nyembe van Wesrand Georganiseerde Misdaad het die ondersoek gelei. Hy het ‘n skakel tussen die gestoorde items en ‘n vragmotor wat kort voor die insident gekaap is, gevind.

Dit het tot die arrestasie van Patel gelei. Tydens die vonnisoplegging is Patel ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

In ‘n ander geval is twee mans op 8 Julie vir motordiefstal gearresteer. Dit volg nadat die eienaar van ‘n Isuzu bakkie oppad na sy woning in Alrapark, die bakkie toevallig by Oasis Vulstasie in Balfourweg opgemerk het.

Hy het die insittendes dadelik gekonfronteer waarop een van hulle ‘n vuurwapen op hom gerig het. Dit het op ‘n woordewisseling tussen die mans uitgeloop. Die verdagtes het daarna op vlug geslaan en in die rigting van die Blesbokspruit langs die laagwaterbrug in Laversburg gehardloop, waar hulle deur lede van Nigel SAPD aangekeer is.

Volgens A/O André Grobler het die verdagtes die vuurwapen vermoedelik in die spruit gegooi. Polisieduikers is na die toneel ontbied waar hulle tot laatmiddag na die vuurwapen gesoek, maar niks gevind het nie. Die verdagtes het op 9 Julie in die Strafhof by Nigel Landdroshof verskyn, maar die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

Nog ‘n saak van diefstal is aangemeld nadat sewe beeste op 8 Julie by Manjoh Ranch buite die dorp gesteel is. Volgens A/O Grobler beloop die waarde van die gesteelde vee ongeveer R140 000. Enige persoon met inligting kan A/O Grobler by 011 812 6506 skakel.

Related Articles

Back to top button