Editor's choiceLocal newsNews

6 Jaar vir man wat by ouers steel

‘n 30-Jarige man van Nigel is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy en ‘n 21-jarige medepligtige op 8 Julie in Nigel Streekshof skuldig bevind is.

Twee mans (Christiaan Theron en Gerrie Theron) het op 27 April by ‘n buitewoning van Christiaan se ouerhuis ingebreek, waar hulle items ter waarde van etlike duisende rande gesteel en later verkwansel het. Christiaan se pa het ‘n klag by Nigel SAPD gelê, waarna hulle op 8 Mei gearresteer is.

Tydens die verhoor het Christiaan op die klag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal, skuldig gepleit.

Lees volledige berig in die aanlyn-koerant: HERAUT

As mede-beskuldigde het Gerrie op die klag van ontvangs en besit van gesteelde goedere skuldig gepleit.

Die staatsaanklaer Bradford Dias het die hof daarop gewys dat Christiaan vorige veroordelings het en dat hy die gemeenskap nie suksesvol as dwelmafhanklike kan dien nie.

In sy uitspraak het die landdros Juan Voogt die beskuldiges individueel aangespreek en gesê die hof neem alle omstandighede in ag by die oorweging van vonnis.

“Die hof is ‘n instrument waardeur die gemeenskap oortreders tot rekenskap roep en vergelding is een van die belangrikste boustene in die regverdiging van straf. Strafoplegging gaan egter ook oor hervorming,” het hy die beskuldigdes ingelig.

Christiaan is gevolglik tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. “Die Departement van Korrektiewe Dienste beskik oor uitstekende rehabilitasieprogramme waarby jy kan inskakel, mits jy gehelp wil word,” het Mnr Voogt gesê.

Gerrie is tot vier jaar gevangenisstraf (opgeskort vir vyf jaar) gevonnis en Mnr Voogt het hom pertinent daarop gewys dat by enige soortgelyke toekomstige oortreding, dié straf dadelik in werking tree. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Related Articles

Back to top button