News

Heidelberg se swemmers lewer puik prestasies tydens skoolvakansie

Goud vir Strydom by nasionale kampioenskappe

Dynamo Aquatics se swemmers het tydens die afgelope skoolvakansie uitstekende resultate by verskeie swemgalas behaal en sodoende bevestig dat daar geen tekort aan talent aan die voet van die Suikerbosrand is nie.

 
Die harde werk wat die swemmers deur die jaar in hul oefensessies ingesit het, is met puik tye in die water beloon. Die atlete wat deur Thilde Victor de Kock afgerig word, het op beide provinsiale en nasionale vlak medaljes gewen en ook uitstekende ervaring opgedoen. Die medaljevangs het reeds op 10 Maart begin toe Zandrè Smook en Jaydon Barnard aan die CGA Vlak-2 jaareind gala by Ellis Park deelgeneem het.

 
Jaydon het tydens die byeenkoms in die 50m rugslag brons ingepalm terwyl hy vierdeplek  in die 50m vlinderslag behaal het.

 
Tydens die SA Nasionale Junior Ouderdomsgroep Kampioenskappe in Durban het Juandré Moll brons in beide die 50m en 100m vryslag behaal terwyl hy vierdeplek in die 100m vlinderslag behaal het. Sy brons in die 100m vryslag was ‘n Fina Wêreld Junior kwalifiserende tyd.

 
Simoné Moll het tydens die gala vierdeplek in die 50m borsslag behaal. Haar 100m  borsslag tyd was ‘n SA Jeug kwalifiserende tyd.

 
Cristopher Strydom het vir die hoogtepunte van die gala gesorg deur goud in beide die 50m en 200m rugslag items te wen. Cristopher het ook silwer in die 100m rugslag en brons in die 50m vlinderslag gewen.

 
Terwyl meeste van hul skoolmaats rustig by die huis gesit en laat geslaap het, het die Dynamo Aquatics swemmers bly skouer aan die wiel sit en die seisoen is met voortreflike werk by die SA Streek Kampioenskappe in Germiston op 31 Maart afgesluit.

 
Hier het Chloë Barnard, Wilhelm Verwoerd, Huib Sprong en Inge Steyn die Heidelberg vlag hoog laat wapper.

 
Huib en Wilhelm het hul span met trots in die 4x100m vryslag asook die 4x50m wisselslag verteenwoordig. Hulle het in beide items silwer medaljes gewen.
Wilhelm het ook ‘n vierdeplek in die 50m vryslag behaal.

 
Inge het op haar beurt brons in die 50m en 100m rugslag behaal. Haar derde brons medalje was in spanverband in die 4x100m gemengde vryslag toernooi gewen.

 

Volg ons op:
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button