Local newsNews

Kriel sterk tuis aan ná opehartchirugie

Hermanus Kriel, of Oom Manie soos hy beter bekend staan onder Heidelbergers vir die afgelope 37 jaar, het op 8 Maart opehart chirurgie ondergaan.

Geliefde oud-apteker alweer op drafstap ná aortaklepvervanging.

 

Hy het ‘n aortaklepvervanging  weens verkalking van die aorta en omliggende hartare ondergaan. Dr Kaveer Sohan van die Unie Hospitaal was sy hartchirurg en het die operasie behartig. ‘n Dierlike aortaklep is gebruik vir die operasie.

 

 

Sedert die operasie hou Kriel hom besig met sy geliefde kloskant stokperdjie

Volgens Kriel was hy nie regtig siek sedert sy aftrede in Desember 2018 nie en sy hartprobleem het so te sê oornag opgeduik. Hy het Dr Theron in Alberton gaan sien waar ‘n angiogram gedoen is. ‘n Kateter is deur sy hoofslagaar gevoer na sy hart om te sien waar die probleem lê. Daar is gevind dat Kriel se aortaklep verkalk het en hy dus chirurgie moes ondergaan.

 
Gedurende die angiogram het Kriel se hart gaan staan. Adrenalien is ingespuit, maar dit het nie gewerk nie. Sy hart was “ge-jumpstart” met ‘n defibrilator wat die werk gedoen het. Kriel het hierna vir twee dae in die hospitaal aangesterk. Die groot dag het op 8 Maart aangebreek en die aortaklepvervanging het drie tot vyf ure geneem om te voltooi. Alles het vlot verloop, waarna Kriel vir ‘n week in die hospitaal aangesterk het.

 

“Ek dra nou ‘n ‘cross-your-heart-bra’ wat my ribbekas ondersteun sodat die weefsel ordentlik kan teruggroei,” spot Kriel.

 

Hy vertel bogenoemde tong in die kies oor die harnas wat hy dra – dit sit knus om sy bors om te verhoed dat ‘n skeur in die weefsel weens hoes of vinnige bewegings gebeur. Die harnas help ook met die groei van weefsel deur sy ribbekas te ondersteun en om kompressie om die wond te plaas.

 

Manie Kriel (72) sterk tans tuis aan nadat hy op 8 Maart ‘n opehartoperasie ondergaan het. Hier hou hy homself besig met die versorging van sy vetplant versameling.

 

“Verder dra ek ‘vreeslike aantreklike compression socks’ wat verhoed dat ek bloedklonte kry en dat water nie in my bene versamel nie,” vertel Kriel.

 

Kompressie kouse is spesiaal ontwerp om druk op jou onderbene te plaas. Dit help om bloedvloei te handhaaf en ongemak en swelling te verminder. Dit  kan voorgeskryf word deur jou dokter wanneer jy ‘n toestand het wat swak bloedsomloop in jou bene veroorsaak.
Sedert die operasie hou Kriel hom besig met sy geliefde kloskant stokperdjie en verder spandeer hy baie tyd in sy tuin waar hy verskeie vetplante met liefde versorg.

 

“Ek wil elke inwoner bedank vir die ondersteuning en emosionele bystand die afgelope tyd. Dit was vir my ‘n groot openbaring om te besef wat ‘n verskil ek in sommige mense se lewens gemaak het. Ek verlang na die dae in die apteek, kliënte en vriende verskriklik. Ek kan dit sê met oortuiging en sonder skaamte.  Dankie Heidelberg vir jul jarelange ondersteuning en bystand,” het Kriel met ‘n glimlag gesê.

 

Volg ons op:

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button