News

Gewapende huisrooftogte neem toe in Heidelberg

Du Toit gesin, vriende aangeval.

Dit is amper nie meer ‘n geval van “as” nie, maar eerder wanneer die volgende huisgesin slagoffers van ‘n gewapende rooftog gaan wees. Oor die afgelope maand is daar ten minste drie ernstige voorvalle waar gewapende mans by wonings inbreek, aangemeld.

 

In twee van die gevalle was dit onderwysers van Hoër Volkskool wat vir hul lewens gevrees het en van hul kosbare besittings moes afstand doen. In een van die gevalle moes lede van Heidelberg Gemeenskap Polisiëring Forum eers daarop aandring voor die SAPD se forensiese span uitgegaan het om die toneel te ondersoek – die inbraak het sowat drie weke terug gebeur.

 

Besigheidsrowe is ook aan die toeneem en wat dalk die meeste angs onder inwoners moet wek, is die feit dat hul veiligheid, selfs al het hulle die beste sekuriteitstoerusting denkbaar, nie gewaarborg is nie.

 

Op 8 Maart omstreeks 20:00 was dit die Du Toit gesin van Heidelberg Sentraal se beurt om hul lewens en gemoedsrus deur die booswigte te laat verwoes. Wat ‘n normale Vrydagaand braai was, het binne minute in ‘n nagmerrie vir Vanessa du Toit, haar gesin en haar gaste verander toe drie gewapende mans (hulle gesigte was met kleurvolle balaklavas bedek) oor haar heining gespring het.

 

“Die volwassenes was agter in die tuin besig om te braai en die kinders het voor rugby gespeel . Die volgende oomblik het die rowers uitgekom en ons beveel om op die grond te lê,” vertel Du Toit.

 

Die maskers wat die mans aangehad het, was soortgelyk aan nekdoeke wat fietsryers gebruik en aanvanklik het almal gedink dit was ‘n grap. Dit was eers toe daar met erns op hulle geskree is dat die volwassenes besef het dat daar groot moeilikheid is. Die kinders, twee 14 jariges en ‘n 11-jarige is eerste oorval.

 

Een is aanvanklik in die voorhuis aangehou. Twee van die rowers het toe uitbeweeg en die groep van ses grootmense onder ‘n tafel in forseer. Dit sou later aan die Du Toits bekend word dat die inbrekers hul huis vir ‘n geruime tyd dopgehou het. “Hulle het gevra waar die kluis is en ek het aan hulle verduidelik,” het Du Toit vertel.

 

Sy het egter geen vuurwapens in haar besit gehad nie en die kluis was reeds oopgesluit en daar was geen duursame items daarin nie. Die mans by die braai is ook deeglik vir vuurwapens deursoek. Die vroue moes al hul juwele afhaal en oorhandig en hoewel een hier en daar met vernuf ‘n trouring kon red, was elke handsak summier weggeraap.

 

Vir sowat 44 minute het die rowers deur die huis gegaan en elke item van waarde gesteel. Hulle het  net spesifieke juwele geneem, kostuumjuwele is uitgelos en volgens Du Toit is die res van die items met geweld uit die mure geruk.

 

“Daar is gate in my mure soos hulle die TV uitgepluk het,” het sy verduidelik.

 

“Een van hulle het ook gesê dat hulle ons beroof omdat hy geld nodig het om vir sy kind in die hospitaal te betaal.” “Hulle was baie jonk. Hulle het nie soos geharde kriminele voorgekom nie.”

 

Gedurende die nagmerrie het een van die mans by die rowers gepleit dat hulle nie die kinders enige leed aandoen nie en die rowers het later ingestem om die kinders by die grootmense vas te keer. Wonderbaarlik is daar nie ‘n druppel bloed tydens die hele sage gestort nie. Die rowers het die motorhek met ‘n boomstomp geblok terwyl hulle die huis gestroop het en daarna met een van die gaste se Toyota Fortuner spore gemaak.

 

“Een van die vroue het geroep om te hoor of daar nog iemand is. Die eerste paar keer het hulle uitgekom en weer op ons geskree, maar toe dit na ‘n lang ruk stil raak, het ons ingegaan en Emis Sekuriteit uitgeroep,” vertel Du Toit.

 

Van die gaste het by die buurman om hulp geroep en hy het onmiddellik die GPF en polisie in kennis gestel. Die reaksie van Heidelberg GPF se patrolleerders was uitstekend aangesien hulle binne minute na die Fortuner begin soek het en ook bystand aan die getraumatiseerde mense gebied het.

 

Vir van Du Toit se gaste was hierdie roof ‘n heel “normale” ding. Die een vrou het vertel dat dit die vyfde keer was dat sy met ‘n geweer aangehou is. ‘n Ander man het om sy beurt gesê dat daar in ‘n kwessie van ‘n maand drie keer by hulle huis ingebreek is. Hulle kon nog nie eers behoorlik die televisies wat die versekering vervang het uit die bokse pak nie, toe is daar weer ingebreek.

 

Volg ons op:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button