Local newsNews

Gilde-lede leer om verf te meng

Onder die sambreel van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde, leer die Protea-tak allerlei vaardighede aan lede wat die fyner tegnieke van koekversiering insluit.

HEIDELBERG – Lede van die Protea-tak van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde het op 9 Februarie by Crime Stop se perseel (die grasdak) op die Vereeniging-pad bymekaargekom, waar Ilze van der Walt ‘n demonstrasie in kleurvermenging gelewer het.

Onder die sambreel van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde, leer die Protea-tak allerlei vaardighede aan lede wat die fyner tegnieke van koekversiering insluit. Kleurvermenging is ‘n kunshandwerktegniek wat nie net ‘n basiese kennis van die kleurkaart verg nie, maar ook ‘n goeie oog en vaste hand. Van der Walt het haar jarelange kennis op dié gebied ingespan en tydens die demonstrasie het sy aan lede verduidelik hoe om verskillende kleure (eetbare) poeierverf te vermeng om byvoorbeeld ‘n suikerblom na die ware Jakob te laat lyk.

“Ons nooi graag lede van die publiek om by ons tak aan te sluit. Woon gerus een van ons vergaderings by en kom kyk self hoeveel pret dit kan wees om ‘n koek in ‘n kunswerk te omskep,” het die vise-voorsitter Linda Nel gesê.

Sy het bygevoeg dat gilde-lede nie noodwendig uit mans of vroue van ‘n sekere ouderdomsgroep bestaan nie en dat daar heelwat ruimte vir die jonger geslag ook is. Lede het juis onlangs na plaaslike skole begin uitreik om belangstelling onder kinders aan te wakker. Kinders onder die ouderdom van 12 jaar is welkom om by die Heide-tak (wat een maal ‘n maand op ‘n Vrydagmiddag bymekaar kom) aan te sluit.

 

Ilze van der Walt het haar jarelange kennis op die gebied van kleurvermenging tydens ‘n demonstrasie met lede van die Protea-tak van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde gedeel. Hier verduidelik sy en haar assistent Gabisile Vilakazi hoe belangrik ‘n basiese kennis van die kleurkaart tydens die mengproses is.

 

Die Protea-tak se volgende vergadering vind op 9 Maart by Crime Stop se perseel plaas.

Vir meer besonderhede, skakel Linda Nel by 083 380 0850 of Sonja Scholtz by 082 632 7371.

 

Volg ons op:
Facebook Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button