Local newsNews

Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit laat Nigeliete in die steek

Nigel se dorpsgebied sien daar sleg uit en algemene dienslewering wat die sny van gras en uitwissing van onkruid insluit, laat veel te wense oor.

NIGEL – “Welkom in die bosveld.” So het ‘n ontstoke besigheidseienaar van Kerkstraat HERAUT op 6 Februarie begroet, terwyl hy ‘n oorgroeide park oorkant sy besigheidsperseel uitgewys het.

Die sypaadjie langs die lisensiekantore wat jare gelede ten duurste met plaveiselstene uitgelê is, is deesdae ook met gras en onkruid oortrek. Op ander plekke in die dorp soos by Hoërskool John Vorster se sportgronde in Rhodeslaan, groei die gras op sypaadjies al heuphoogte en die veld langs Eeufeespark Aftree Oord het oornag in ‘n kleinskaalse rommelstortingsterrein verander.

Nigel se dorpsgebied sien daar sleg uit en algemene dienslewering wat die sny van gras en uitwissing van onkruid insluit, laat veel te wense oor.

“Binne ‘n kwessie van maande het Nigel vinnig agteruit gegaan. Ons was Desember vir ‘n paar weke in die Kaap met vakansie en met ons terugkeer was ek en my vrou geskok oor die toestand waarin die dorp verkeer. Die gras is maande laas gesny en ondanks klagtes wat ons by die munisipaliteit ingedien het, word daar niks aan die saak gedoen nie,” het Jan van der Merwe van One Stop Auto in Kerkstraat gesê.

Hy het intussen van sy eie personeel ingespan om gereeld ‘n strook gras van ongeveer een meter breed langs sy besigheidsperseel te sny. Dit is nie sy plig om dit te doen nie, maar hy doen dit om veiligheidsredes.

 

Hier wys ‘n gereelde besoeker aan Nigel Biblioteek Sibusiso Methula, hoe dié fasiliteit deesdae daar uitsien. Dit nadat lede van Nigel VLU verlede jaar geen moeite ontsien het om Nigel Biblioteek se terrein skoon te maak en op te knap nie.

 

Voor die ingang van sy besigheid is daar boonop ‘n kragpaal met talle onblote en ongeïsoleerde kragdrade. Dié is volgens Van der Merwe in 2018 aan die plaaslike munisipaliteit rapporteer, maar sy klagte het blykbaar op dowe ore geval. Honderde voetgangers loop daagliks by die ontblote kragpaal verby.

“Die munisipaliteit sleep hul voete wanneer dit by dienslewering kom. Ons het ook die plaaslike DA raadslid by geleentheid vir bystand gekontak, maar steeds word daar niks aan die saak gedoen nie en die belastingbetaler moet eenvouding net voortgaan om op te dok,” het hy gesê.

Gedurende Februarie 2018 het HERAUT by monde van raadslid Wollaston Labuschagne verneem dat Ekurhuleni se parke-afdeling ‘n petrol- en dieseltekort ervaar en gevolglik kon munisipale werkers nie by hul skedules hou om enige gras te sny nie. Labuschagne was egter nie ten tye van HERAUT se besoek aan die dorp op 6 Februarie vir verdere kommentaar beskikbaar nie.

 

Die sypaadjie by Hoërskool John Vorster se sportgronde in Rhodeslaan is behoorlik toegegroei en dit is duidelik dat die gras maande gelede gesny is.

 

Terwyl lede van Nigel VLU verlede jaar kragte saamgespan en geen moeite ontsien het om Nigel Biblioteek se terrein te vernuwe nie, het dit die afgelope paar maande tot oerwoud-status verval. Tydens HERAUT se besoek was dit duidelik dat Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit ‘n blinde oog het, want oral waar ‘n blommetuin vantevore gepronk het, groei die gras en onkruid nou wild en onbeheersd. Besoekers soos Sibusiso Methula het sy skok oor die verval uitgespreek en gesê hy is teleurgesteld dat die munisipaliteit nie aandag aan die saak gee nie.

“Ons word blootgestel aan ongediertes soos slange, rotte en muskiete om nie eers van kriminele wat moontlik in die bosse kan skuil, te praat nie,” het hy sy misnoë uitgespreek.

Inwoners oor die algemeen het slapelose nagte oor aangrensende leë erwe wat, behalwe om onooglik te wees, ‘n veiligheidsrisiko skep. Boewe, haweloses en dwelmverslaafdes vind perfekte skuiling in oorgroeide leë erwe.

 

Jan van der Merwe van One Stop Auto in Kerkstraat het hierdie oorgroeide onkruidbos in ‘n grasveld aangrensend tot sy besigheid aan HERAUT uitgewys. Onkruid bereik nie oornag hierdie hoogte nie en dit is duidelik dat Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit nie aandag hieraan skenk nie.

 

Dan is daar die kanaal wat nou weens gebrekkige instandhouding onherstelbaar beskadig is. By vorige navraag het DA raadslid Labuschagne ondermeer gesê dat die kanaal nie meer onderhou kan word nie, aangesien dit aan die einde van sy lewensduur gekom het en dat dit ekonomies onvatbaar sou wees om dit te onderhou. Oor die langtermyn sal die kanaal geherkonstruktureer moet word.

Daar heers ook nuwe kommer oor die verskyning van slaggate in die strate en waar Nigel voorheen vir redelike instandhouding en netheid bekend was, blyk dit deesdae ‘n ander storie te wees.

Labuschagne het inwoners aangeraai om gebrekkige dienslewering by  Ekurhuleni se inbelsentrum te rapporter deur 0860 543 000 te skakel.

Nigel Munisipaliteit se klagtediens sentrum kan ook by 011 999 9147 geskakel word.

 

Follow us on:
Facebook Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button