Local newsNews

Handige wenke wanneer jy ‘n slang teëkom

Dit is nou die tyd van die jaar met hoë temperature dat slange baie aktief raak.

HEIDELBERG – Dit is nou die tyd van die jaar met hoë temperature dat slange baie aktief raak.

In die onmiddellike Heidelberg omgewing is daar ongeveer sewe spesies slange met hul subspesies. Uit hierdie groep is daar slange wat hul prooi wurg en slange wat hul prooi met gif doodmaak.
Die wurgslange is gewoonlik skadeloos en nie giftig nie, uitgesonderd luislange, weens hul grootte en brute krag. Bruin huis- en ander huisslange is skadeloos.

Giftige slange is díe wat spoeg en pik om hul prooi te disoriënteer en/of te verlam. Swart rinkhalse is ‘n goeie voorbeeld van ‘n spoegslang. Babaslange is net so giftig as volwassenes. Pofadders is baie rustige slange tot daar op hulle getrap word wanneer hulle dan pik.

Die vraag ontstaan wat om te doen as jy ‘n slang ontdek en nie ken nie. Eerstens moet jy ‘n bril opsit en oop wonde bedek ingeval dit ‘n spoegslang is. Onthou om kalm te bly en ‘n ervare slanghanteerder te bel. Hou die slang dop, hulle is geneig om in onmoontlike plekke in te seil. Deur die slang dop te hou,  help dit die slangvanger om dit te verwyder.

Wat doen jy wanneer ‘n slang jou gespoeg het? Jy spoel jou oë asook die besmette area deeglik uit met lopende water vir drie tot vyf minute. Hou gif uit oop wonde en besoek so gou moontlik ‘n noodhulpwerker en/of dokter. Moenie melk gebruik nie. Melk bevat vette waaraan die gif klou en dus aan die liggaam vassit.

Wanneer jy deur ‘n giftige slang gepik is, bel vir mediese bystand en maak die wond skoon deur met droë  watte of gaas weg van die wond te vee. Dit voorkom dat gif in die wond ingevee word. Daar is reeds gif vrygelaat wat op die vel sal wees. Moet nie met water afwas nie, anders word die gif in die opening ingewas. Hou altyd die wond hoër as die hart tot professionele hulp opdaag.

Dit is wys om die volgende in gedagte te hou: Sou jy op ‘n slang afkom, gee dit reg van toegang. Hy sal jou nie aanval nie, maar eerder wegseil. Moenie skielike bewegings maak of spring  nie en hou ‘n afstand van sowat vyf meter tussen jou en die slang. Moenie poog om die slang dood te maak nie. Dit kan daartoe aanleiding gee dat die slang jou aanval. Moet ook nie die slang met klippe en stokke verwilder nie. Deur dit te doen, kan die slang net later terugkeer. Laat dit eerder verwyder. Roep of bel vir hulp.

Troeteldiere: Wanneer jy bewus word van ‘n slang in jou omgewing, verwyder jou troeteldiere. Dit is in hul natuur om jou te beskerm en die slang aan te val.
Wetgewing: Dit is onwettig en teen natuurbewaring wetgewing om sonder ‘n geldige permit slange en/of ander diere te vang en te verwyder, selfs as dit in jou huis gevind word.

Skakel George (senior) Booker 082 465 6754 vir meer inligting.

Ander slangvangers wat in die omgewing beskikbaar is, kan ook geskakel word by 082 524 7164 JP Booker of George Booker by 066 114 5505.

 

Follow us on:
Facebook Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button