News

Jong vrou vertel van hel na besoek aan plaaslike haarsalon

Du Plessis het aangedui dat die salon reeds die produkvervaardiger gekontak het om die aantygings te ondersoek.

Vir Annemarie Comerma het ‘n gewone besoek aan die haarsalon verreikende langtermyn gevolge en sy vrees haar lewe het onherroeplik verander.  Waar dié 32-jarige vyf weke gelede met groot opgewondenheid na ‘n nuwe voorkoms uitgesien het, staar sy nou ‘n veloorplanting en duisende rande in mediese onkoste in die gesig.

 
Haar eens welige bos donker hare is tot op die vel geskeer en gedeeltes van haar kopvel is chirurgies verwyder om chemiese brandskade te behandel en wondinfeksie te beheer. Comerma se storie begin op 23 Junie toe sy Hair and Beauty Definition vir ‘n haarkleur besoek het. Sy het vooraf op ‘n donker skakering van rooi besluit en die standaard kleurprosedure sou nie langer as ‘n uur geneem het nie.

 
Waar sy enkele dae na chirurgie vanuit haar hospitaalbed by die Life Suikerbosrand Hospitaal met HERAUT gepraat het, het die trane vrylik gevloei en haar innerlike stryd verklap. Comerma hou die salon verantwoordelik vir die toestand van haar kopvel. Prokureur Sulandi du Plessis het egter namens die salon gesê dat haar kliënte nie noodwendig die oorsaak van Comerma se smart was nie.

 

“’n Gevolgtrekking oor wat Comerma se situasie veroorsaak het sal eers na deeglike en tydsame ondersoeke gemaak kan word. Dit is daarom jammer dat aantygings teen die salon reeds op Facebook gemaak is, sonder dat genoegsame bewyse ‘n wetenskaplike verklaring bied vir wat gebeur het. Dit is ook jammer dat die salon se weergawe van gebeure nie saam met die aanlynplasing die kuberruim in is nie,” het sy gesê.

 

Comerma en die salon verskil oor wat daardie dag gebeur het. Terwyl Comerma sê dat sy slegs een behandeling op 23 Junie ontvang het, beweer die salon dat sy haar hare aan nóg ‘n behandeling op die selfde dag onderwerp het. Comerma onthou dat sy Hair and Beauty Definition verlaat het tydens die behandeling.

 

 

“Die salon het haar aangeraai om daar te bly tydens die behandelingstydperk,” het du Plessis gesê, maar Comerma meen sy is sonder beswaar daar uit om haar selfoon iewers te gaan haal.

 

Sy beweer dat sy skaars 20 minute na toediening van die bleikmiddel, teenoor die haarkapper Eilias gekla het dat haar kopvel brand, waarop hy glo die chemiese middel met water afgespoel en petroleumjellie aangewend het. Hy het kort daarna die kleurproses hervat.

 
Comerma het dadelik vermoed daar is fout toe sy later die middag ‘n reuseknop aan die agterkant van haar kop net bo die nek ontdek. Haar eens gesonde hare was bros en in oneweredige stukke gebreek. Die volgende dag was albei haar oë toegeswel en sy het ‘n plaaslike dokter besoek. Ondanks medikasie het die kopvel na vier dae oopgeskeur en duidelike tekens van infeksie het haar genoop om dadelik terug te gaan na die dokter.

 
Die wond is vir drie weke lank met toediening van salf en orale medikasie behandel, maar dit het so versleg dat Comerma op 21 Julie teater toe is vir ‘n operasie om gedeeltes van die geïnfekteerde vel te verwyder.

 

“Eers was die pyn oorweldigend, toe daarna – die skok om my kop in hierdie toestand te sien. Ek weet nie hoe ek ooit weer my gesig in die openbaar gaan wys nie. My voorkoms is geskend en daarom voel ek dis nodig om ander vroue te waarsku, veral meisies wat binnekort hul hare vir matriekafskeid laat doen, om seker te maak dat jou haarkapper oor die nodige kwalifikasies beskik” het sy gesê.

 

In reaksie hierop het du Plessis bevestig dat die salon en al sy werknemers wel gekwalifiseer is en aan die wetlik voorgeskrewe mededingingsraad behoort. Volgens Comerma het sy Hair and Beauty Definition per whatsapp gekonfronteer, waarop sy na bewering meegedeel is dat haar simptome die gevolg van ‘n allergiese reaksie kon wees.

 

Comerma ontken dit en sê dat sy nie eers ‘n allergiese reaksie op medikasie het nie en dat sy haar hare verskeie kere in die verlede sonder probleme gekleur het. “Dit was egter my eerste besoek aan dié betrokke haarsalon,” het sy bygevoeg.

 

Op aandrang van die dokter ontvang Comerma berading, maar die pad na volkome herstel is vol uitdagings aangesien haar mediese plan nie toekomstige kosmetiese behandeling soos haargroei stimulasie dek nie.

 

“In die afwesigheid van inligting wat die salon onteenseglik as die oorsaak van Comerma se smarte identifiseer, sal dit onregverdig wees om daardie afleiding te maak. Desondanks die feit het  Hair and Beauty Definition empatie met Comerma. Die salon wens haar beterskap toe,” het sy afgesluit.

 

 

DIE VOLGENDE FOTOS IS NIE GESKIK VIR SENSITIEWE LESERS NIE


 

 

Gedeeltes van Annemarie Comerma se kopvel is chirurgies verwyder om die wonde te behandel en infeksie te beheer en sy sal moet veloorplantings ontvang.

 

 

Gedeeltes van Annemarie Comerma se kopvel is chirurgies verwyder om die wonde te behandel en infeksie te beheer en sy sal moet veloorplantings ontvang.

 

 

 

Volg ons op:

Facebook

Twitter

Related Articles

Back to top button