News

Nigel hofsake

Nuutse verwikkeling in Nigel howe.

Lehman moord:
Trevor Allen, die 64-jarige man wat daarvan beskuldig is dat hy sy vriendin Dianne Lehmann op 5 September tydens ‘n woordewisseling in ‘n kroeg doodgeskiet het, se saak is tot 1 Junie uitgestel. Na verwagting sal die saak na die Hooggeregshof oorgeplaas word sodra ‘n datum beskikbaar gestel word.

 

Nyembe moordsaak:
Die beskuldigdes in die Nyembe-moordsaak (adjunkhoof van Edalinceba Primary School in Duduza wat op 26 September 2017 doodgeskiet is), se saak is tot 31 Mei vir verdere ondersoek uitgestel.

 

Scrooby-egpaar:
Die vermeende bedrieërs van Nigel wat op 25 April op ‘n borgaansoek in Middelburg Landdroshof verskyn het nadat hulle deur die Valke in Mpumalanga gearresteer is, se saak is tot 7 Junie uitgestel.  Aletta Scrooby (ook bekend as Kathy Coetzee) is op borg van R5 000 vrygelaat.

 

Pep rowers:
Die vyf mans wat op 11 Februarie 2016 ná ‘n gewapende roof by Pep Stores in The Angelo Mall vasgetrek is, se verhoor het op 9 April in Nigel se Streekhof begin, waar dit tot 5 Junie uitgestel is.

 

Pienaars-moordsaak:
Die beskuldigde in die Pienaars-moordsaak (Dubbelmoord ruk Nigel-gemeenskap: HERAUT 23 Maart 2016) se saak is na die Hooggeregshof oorgeplaas, waar die verhoor op 23 April begin het. Verskeie getuies het reeds vir die staat getuig en die saak is vir die week van 20 tot 24 Augustus vir afhandeling van die verhoor uitgestel.

 

Swendelaars se bedrogsaak:
Verskeie beskuldigdes in die bedrogsaak wat ondermeer diefstal en identiteitsbedrog insluit, het sedert Junie in Nigel Landdroshof verskyn. Tydens die voortdurende ondersoek deur Sers Johan Lourens van Nigel Speurtak, is ‘n bykomende 11 persone wat met die saak verbind word gearresteer en het hulle op 12 April voorgekom. Na verwagting sal die saak later vanjaar na die Hooggeregshof oorgeplaas word, maar is voorlopig tot 15 Junie uitgestel.

 

Volg ons:

Facebook

Twitter

Related Articles

Back to top button