EntertainmentLifestyleNews

Oud-Volkie Mnr SA finalis

Jacob Bronkhorst is onlangs as een van die top 10 finaliste in die gesogte Mnr Suid-Afrika kompetisie aangewys.

Dié 29-jarige onderwyser beoefen modelwerk sedert sy kinderdae en was maar in Graad 3 toe hy sy eerste kompetisie gewen het.

 

“Ander seuns het sport soos rugby of krieket beoefen, maar modelwerk was my sport,” het hy gesê.

 

Bronkhorst se laerskoolloopbaan het in Nigel by Laerskool Tini Vorster begin en by Hoër Volkskool Heidelberg geëindig. Na skool het hy onderwys studeer, waarna hy ‘n honneursgraad in inklusiewe onderwys behaal het en later vir ‘n nagraadse meestersprogram in onderwyssielkunde ingeskryf het.
Hy spog met verskeie titels wat hy met die verloop van jare in modelkompetisies verwerf het.

 

Van sy modelwerk sluit die ‘Pageants SA’ kompetisie, Mnr Gauteng, Mnr Toerisme en ‘Mr King of the World pageant’ in waar hy ondermeer as eerste prins gekroon is. Dié titel het hom geleentheid gebied om Suid-Afrika in Turkye te verteenwoordig.

 

“Die dag waarop hulle my in kennis gestel het dat ek ‘n finalis in die Mnr SA kompetisie is, was die hoogtepunt van my modelloopbaan. Dit is ‘n droom wat bewaarheid word,” het hy opgewonde gesê.

 

Dit was egter harde werk om die hoogtepunt te bereik en Bronkhorst sê daar word van alle deelnemers verwag om by liefdadigheidsorganisasies betrokke te raak. Een van die organisasies waar hy by betrokke is, is Children Affected by Cancer (CHOC).

 

Hy is ook stigter van ‘The Man Cave Project’ waar werklose jongmense die nodige vaardighede geleer word om ‘n beter toekoms vir hulself te bou.

 

“Indien ek die Mnr SA 2018 titel sou wen, sal ek my op die onderwyssektor toespits. Ek dink ek het wat dit verg om ‘n stem vir elke leerder te wees om te verseker hy of sy kry die reg tot goeie, gehalte onderwys in die land. Deur positiewe verandering kan ek ‘n verskil maak,” het hy gesê.

 

Die wenners van die Mnr SA kompetisie word gedurende November tydens ‘n gala-geleentheid aangewys. Meer besonderhede oor die datum en plek sal later deur kompetisie organiseerders bekendgemaak word. Bronkhorst hoop om onder die eerste drie finale deelnemers te eindig.
Stemlyne is nou oop. Om vir Bronkhorst te stem, sms die woord MRSA036 na 47439. Elke sms kos R3 en terme en voorwaardes geld.

 

Volg ons:

Facebook

Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button