CrimeLocal newsNews

Nigeliet en haar man in hof oor bedrog

Aletta (néé Oosthuizen) en haar man Peter (43) Scrooby het op 13 April in Middelburg Landdroshof op aanklag van bedrog verskyn.

Die arrestasie is deur die Valke in Mpumalanga uitgevoer en volgens polisiewoordvoerder Kaptein Dineo Sekgotodi is die Scrooby-egpaar op 12 April aangekeer.

 

Hulle het na bewering in Maart ‘n vragmotormaatskappy in Middelburg gekontak en ‘n ooreenkoms aangebied om 90 vragmotors aan te skaf. Volgens Kapt Sekgotodi het hulle ‘n aansoek ingedien, wat later goedgekeur is en die egpaar is versoek om die vragmotors vir aflewering gereed te kry.

 

Op 5 April het hulle die vragmotormaatskappy glo ingelig dat ‘n bedrag van R1,7 miljoen in sy bankrekening gedeponeer is vir die aflewering van 10 vragmotors.

Die bewys van betaling het egter agterdog gewek en die maatskappy het navraag by die bank gedoen, waarop hulle vasgestel het dat geen betaling gemaak is nie. Die Valke is daarvan in kennis gestel en het tydens hul ondersoek op valse dokumentasie afgekom.

 

Die egpaar se borgaansoek word op 25 April aangehoor.

Die sosiale media platform IRS Forensic Investigations het op 14 April berig dat Aletta verskeie mense onder die alias Aletta Susanna van der Merwe, Aletta Susanna Oosthuizen, Kathy Coetzee, Kathy Scrooby en Katryn Scrooby bedrieg het. Volgens die polisie word die egpaar met nog vier bedrogsake in ondermeer Dunnottar, Brakpan, Westonaria en Boksburg Noord verbind.

HERAUT leser Eileen van Tonder Jordan se seun Jordan is op agtjarige ouderdom met skildklierkanker gediagnoseer en moet elke ses maande behandeling in die Verenigde State ontvang. Sy het na bewering ook gedurende Augustus 2017 een van Aletta se slagoffers geword en het die volgende aan HERAUT geskryf:

“Gedurende Augustus het ek ‘n oproep van ene Kathy Coetzee, na bewering die direkteur van Phakamisa Logistics, ontvang. Sy het gesê dat sy my sosiale inskrywing onder ‘Jordans Journey’ gevolg het en dat sy ‘n finansiële bydrae wou maak ten opsigte van sy kankerbehandeling. Kathy het egter versoek dat ek ‘n verklaring by die polisiestasie ter bevestiging van Jordan se siekte aflê en tesame daarmee moes ek haar van al sy vertroulike mediese korrespondensie en sy identiteitsdokument voorsien.

Kort daarna het ek navraag gedoen en verneem of alles in orde is, sodat ek Jordan se oorsese reis vir behandeling kan bespreek en Kathy het bevestigend geantwoord. So het ek en Jordan die vermoeiende reis onderneem, maar kort daarna het ek ‘n boodskap van Kathy ontvang waarin sy verklaar dat haar prokureur ondersoek ingestel en bevind het dat Jordan genoegsame fondse vir behandeling ontvang. Sy het aangedui dat sy eerder ‘n ander kind finansieel gaan bystaan en het gevolglik haar aanbod onttrek.

Na die aanvanklike skok (en hier wil ek net noem dat daar hoegenaamd geen fondse meer in Jordan se trustrekening was nie) het ek besef dat Kathy die dokumente wat ek vir haar gestuur het, valslik en bedrieglik vir eie gewin gebruik het, deur voor te gee dat haar seun ‘n kankerpasiënt is. “

Die selfoonboodskap waarin ene Kathy, Eileen van Tonder meedeel dat sy nie meer ‘n finansiële bydrae tot Jordan se kankerbehandeling gaan maak nie.

Volgens Van Tonder Jordan het IRS Forensic Investigations haar intussen gekontak met die oog op opening van ‘n bykomende bedrogsaak teen Kathy en die saak word ondersoek.

Die vermeende bedrieërs HET op 25 April op ‘n borgaansoek in Middelburg Landdroshof verskyn nadat hulle deur die Valke in Mpumalanga gearresteer is. Die saak is tot 7 Junie uitgestel.  Aletta Scrooby (ook bekend as Kathy Coetzee) is op borg van R5 000 vrygelaat.

Related Articles

Back to top button