Local newsNews

Regan veg dapper voort

Maar sy stryd teen kanker nog lank gewonne

Regan Schreiber (7) sit sy stryd teen die gevreesde kankersiekte Hodgkin Lymphoma daagliks moedig voort.
Weens gereelde behandeling word hy soms baie siek en woon ook nie meer skool by nie. Volgens sy ma Charlotte, het hy gewig verloor en raak hy deesdae gou moeg en uitasem.

 

Sy het gesê dat Regan ‘n regte woelwater was en dat hulle as ouers aanvanklik nie te bekommerd was oor geswelde kliere in sy nek verlede jaar nie.

 

Later het die kliere meer prominent begin uitstaan en Regan het gekla dit is seer. Talle doktersbesoeke en houers vol antibiotikum later, het sy ouers hom na Charlotte Maxeke Hospitaal geneem, waar hy dadelik ‘n biopsie en beenmurgtoetse ondergaan het.

 

Hy was ‘n Graad 1-leerder by Laerskool Tini Vorster in Februarie toe kanker (tweede fase) by hom gediagnoseer is. Sedertdien het hy elke twee weke tot en met 7 Augustus chemoterapie ondergaan.

Tydens sy laaste besoek het bloedtoetse egter gewys dat hy ‘n virale infeksie opgedoen het en verkeer hy in ‘n gevaarsone.

 

Hy moet weer op 26 September vir verdere skanderings in die hospitaal opgeneem word.
Charlotte het die publiek bedank vir die wyse waarop hulle Regan die afgelope ses maande finansieel ondersteun het, maar die stryd is nog lank nie gewonne nie en intussen help sy om die pot aan die kook te hou met tuisgebak.

 
Enige bydrae word verwelkom en enige persoon wat die Schreiber familie wil ondersteun kan vir Charlotte by 083 998 0116 skakel.

Related Articles

Back to top button