Local newsNews

Taxi-staking… Gauteng kan dit nie bekostig nie

Die VF Plus het die taxi-staking wat Gauteng vanoggend tot stilstand geruk het, skerp veroordeel.

Verkeer is reeds sedert vroeg vanoggend regdeur die provinsie erg ontwrig en baie mense kon nie by hul werksplekke en skole uitkom nie.

Die party se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het gesê dat hierdie optrede van taxi-bestuurders die provinsie se ekonomie enorme skade berokken en menselewens in gevaar stel. Hy het ook gesê dat die onderskeie verkeersowerhede en die SAPD, nie gerat is om hierdie tipe van optredes vas te vat nie.

“Ek het vanoggend oproepe ontvang van mense wat vasgekeer was in hul voertuie asook swaar vragmotorbestuurders wat uit hul voertuie gedwing is en die voertuie gebruik is om paaie te versper.

Die VF Plus veroordeel hierdie optrede van taxi-bestuurders ten sterkste en dring daarop aan dat die LUR van Vervoer in Gauteng, Mnr. Vadi, daadwerklik begin optree teen taxi-owerhede. Die LUR se optrede teen taxi-eienaars hierdie jaar, is te sag en nou begin ons almal ‘n prys daarvoor te betaal”.

Van Staden meld ook dat die provinsie se ekonomie nie sulke protesaksies kan bekostig nie en dat vandag die provinsie miljarde rande uit die sak gaan jaag.

“Gauteng kry reeds min beleggings vanuit die buiteland en die provinsie se ekonomie trek reeds baie swaar. Vandag word alle sektore in die provinsie erg geraak en alles word tot stilstand gedwing. Dit gaan ‘n groot insinking in Gauteng se ekonomie tot gevolg hê”.

Intussen het die protesoptredes plek-plek in Gauteng omgeskakel in geweld.

Related Articles

Back to top button