Local newsNewsUpdate

Verkrag, vergeet, verwaarloos

Haglike toestande duur voort by ouetehuis

‘n Bejaarde vrou wat in Zanele Mbeki Ouetehuis in Dunnottar se sorg geplaas is, het gesterf kort nadat sy deur ‘n pasiënt verkrag is, maar niemand mag daaroor praat nie.
Dit is volgens inwoners die tweede vrou wat die man in ‘n kwessie van ‘n paar maande verkrag het.

“Hy het vir ons gesê dat hy dit like om wit vrouens te rape,” het ‘n inwoner tydens ‘n onlangse besoek aan HERAUT vertel.

Die vrou wat oorlede is, was glo gesond voor die voorval, maar kon daarna nie meer haar daaglikse roetine van in die tuin rondstap voltooi nie.

Sy is sowat twee maande na die voorval dood.

“Hulle het hom nie aangekla nie en ons mag ook nie daaroor praat nie. Hulle het geweet hy verkrag vroue, maar het hom net weer in Duduza gaan aflaai.”

Die tweede slagoffer woon steeds in Zanele Mbeki, maar is verstandelik gestremd.

https://www.instagram.com/p/BRROSk4gs1y/?taken-by=mickeymentz&hl=en

Inwoners het ook hul misnoeë met betrekking tot die behandeling wat hulle in die ouetehuis ontvang, op skrif gestel. Die roerende briewe is aan HERAUT oorhandig.

Buiten die verkragtings is daar ook groot ontevredenheid oor die feit dat die hysbak wat talle inwoners toegang tot die buitekant van die gebou gee, reeds meer as twee jaar buite werking is.

Een inwoner het vertel hoe sy vir 17 uur in haar rolstoel gelos is. Sy het haar doeke bevuil. Die susters wou haar net eenvoudig nie help nie.

“Hier gaan mense onnodig dood,” het ‘n ander vrou verduidelik.

Hoewel die staat sowat R14 500 aan elke pasiënt toestaan (hierdie bedrag is na bewering tot R17000 per pasiënt vermeerder) is hul rantsoene onlangs beperk.

Twee rolletjies toiletpapier en een koekie seep is glo al wat aan hulle voorsien word. Gedurende Februarie het hulle nie tandepasta ontvang nie.

Maaltye bestaan hoofsaaklik uit stysel. Daar is nie meer groente en vrugte op hul borde nie – slegs pap, brood en met tye koue lewer.

Etenstye is ook onreëlmatig en daar gaan dikwels tot 14 ure tussen maaltye verby.

Tee is van ses koppies per dag na twee verminder. Verskeie poste is vakant en hoewel die inwoners baie respek vir sekere van die maatskaplike werkers en verpleegsters het, is daar ander wat hulle glo uiters swak behandel.

“Hier word jou dignity van jou af weg geneem. Ons het gesien hoe een van die verpleegsters met ‘n bottel champagne hier ingestap kom. Die bottel is later leeg in ‘n asblik gevind. Ons het daaroor gekla, maar ons mag nie kla nie.”

Die inwoners smeek dat die bestuur van Zanele Mbeki dringend verander moet word, voor nog mense sterf.

“Hulle weier dikwels om my toilet toe te vat. Ek probeer aan hulle verduidelik dat mens nie net kan besluit wanneer jy wil kak nie. As jy wil kak, moet jy kak en dan kan jy nie vyf ure wag nie,” het ‘n ander inwoner vertel.

HERAUT het die saak onder die departement van Maatskaplike Ontwikkeling se aandag gebring – ons wag steeds vir terugvoering.

 

Related Articles

Back to top button