Local newsNewsBreaking News

Begrafnisondernemer van nalatigheid beskuldig

NIGEL - ‘n Plaaslike familie beweer dat hul ontslape vader en eggenoot weens die nalatigheid van ‘n bekende begrafnisonderneming van sy finale waardigheid gestroop is.

 

VOLLEDIGE BERIG IN DIE WEEK SE UITGAWE VAN HERAUT

Kort na die afsterwe van Fanie Jooste op 9 Augustus, het die familie AVBOB Nigel vir ‘n roudiens genader, aangesien daar vooraf op verassing van die liggaam besluit is.

Die roudiens het op 16 Augustus plaasgevind en volgens besonderhede wat deur AVBOB Nigel aan die familie verskaf is, sou die liggaam kort daarna na ‘n krematorium in Kempton Park vir die verassing geneem word.

Die familie is verseker dat die verassingsproses ongeveer drie weke sou duur, maar toe daar na vier weke geen tyding van AVBOB Nigel was nie, het Me Amanda Jooste op 12 September navraag gedoen.

“Ons was geskok om te verneem dat die liggaam na byna ‘n maand nooit na die krematorium gestuur is nie, maar steeds in ‘n koelkamer by die begrafnisonderneming gehou word, aangesien die nodige dokumentasie blykbaar verlore geraak het,” het Me Jooste aan HERAUT gesê.

Dié oorsig of beweerde nalatigheid was volgens AVBOB NIE die rede vir die vertraging in die verassing nie, maar wel ‘n uitstaande rekening van ongeveer R3 500 wat deur die familie betaalbaar is. AVBOB Nigel beweer die familie was deeglik daarvan bewus dat die begrafnispolis slegs die koste ten opsigte van die roudiens gedek het, en dat hulle self vir die kostes ten aansien van die verassing aanspreeklik is.

Die Jooste familie ontken dit en sê tot en met hul navraag op 12 September, was geen melding hetsy mondelings of by wyse van ‘n faktuur, van uitstaande kostes gemaak nie.

In antwoord op HERAUT se navraag het Marius du Plessis (AVBOB groep se kommunikasie bestuurder) verskoning aangebied en bevestig dat die standaard van diens nie aan die normale voorskrifte voldoen het nie.

“Van ons personeel het nagelaat om behoorlik met die familie te kommunikeer en ‘n belangrike dokument wat die oorledene na die krematorium moes vergesel, het soek geraak. Dit het ‘n vertraging tot gevolg gehad en die oponthoud is nie met die familie bespreek nie,” het hy gesê.

 

Du Plessis het ook bevestig dat die familie vir geen verdere kostes aanspreeklik gehou word nie en die verassing was teen 16 September afgehandel.

 

Related Articles

Back to top button