Local newsNews

Stem vir Corli Leonard as Afrika-finalis in Frankryk-resies

Oud-Heidelberger het jou stem voor Vrydag 20 Mei nodig.

Oud-Heidelberger Corli Leonard is een van drie finaliste in Afrika en die enigste Suid-Afrikaner om aan die Asics Beat the Sun aflosresies in Frankryk deel te neem. Dit hang van die publiek se stem af of Corli as die Afrika verteenwoordiger gekies gaan word.

Corli (30) was hoofmeisie van Laerskool AG Visser in 1999 sowel as hoofmeisie van Hoër Volkskool in 2004. Haar ouers, Maurice en Celeste Leonard woon steeds in Heidelberg.

Sy het industriële ingenieurswese studeer en werk tans by die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies aan die Universiteit van Stellenbosch.

Asics Beat the Sun resies is die grootste resies van sy soort in die wêreld en word op die langste dag van die jaar in die noordelike halfrond op 21 Junie gehou. 50 Amateur atlete word as semi-finaliste aangewys en die publiek se stemme sal die finale 24 deelnemers bepaal.

Spanne van agt sal die 150km aflosresies oor die hoogste berg in die Alpe, Mont Blanc aandurf. Die idee is dat atlete die resies voltooi voor die son sak. Dit is die derde jaar dat die resies aangebied word.

Elke persoon kan een maal ‘n dag vir sy/haar kandidaat stem. Die afsnydatum is hierdie Vrydag (20 Mei). As jy graag ‘n Suid-Afrikaner en oud-Heidelberger as finalis wil sien, stem vir Corli by https://races.asics.com/za/en-za/beatthesun/vote

Related Articles

Back to top button