Local news

Tuinbou, bome en boeke onder die soeklig by Nigel VLU

Hettie Botha wat die gasvrou vir die dag was het 'n paar reëls uit Nataniël se boek Help Help gedeel wat almal laat skaterlag het.

Die VLU Nigel-tak het op 10 Oktober ‘n insiggewende vergadering gehou.

Die tak wat vanjaar hul 85ste bestaansjaar vier is een van die oudste VLU takke en spog reeds met 787 vergaderings.

Die temas vir die dag was tuinbou, bome en boeke met Hettie Botha as die gasvrou.

Roelf Jonker was genooi om die lede in te lig oor tuin uitleg en die versorging van grasperke, blomme en vrugtebome.

Jonker doen al vir 30 jaar die uitleg van tuine en is bekend in Nigel as ‘Oom Tuin’.

Sy kennis en wenke het almal verbaas en die lede kon nie wag om wat hulle geleer het te gaan toepas in hul eie tuine nie.

Van die wenke wat hy gedeel het was:

• Goedkoop bemesting lok miere, maak seker jy koop altyd ‘n hoë gehalte bemesting.

• As jy jou plante en struike toemaak in die winter, moet nie jou plante versmoor nie. Bou eerder ‘n raamwerk rondom die plant en maak die raamwerk toe. Jy kan selfs ‘n deksel bo op die raamwerk sit wat jy in die oggende kan afhaal sodat daar steeds sonlig kan inkom en weer toemaak in die aand om teen die koue te beskerm.

• Daar is baie chemiese stowwe in kunsmis, hou eerder by natuurlike produkte.

• Gebruik ‘n mengsel van Engelse sout en water om veral rose vinniger te laat groei.

• As jy saailinge koop, lig dit op en kyk na die wortels. Die wortels moet nie inmekaar gegroei wees nie want dan ly die plantjie aan wortelstres en gaan heel waarskynlik nie lank groei of blom nie. Kies saailinge wat se wortels afwaarts groei.

• Om vrugtevlieë van vrugtebome weg te hou, gebruik ‘n flou mengsel van Jeyes Fluid wat op die bome gespuit kan word.

• As jy plante in potte plant, voer die kante van die pot uit met borrelplastiek. Gebruik polistireen onder die potte in plaas van klippe. Polistireen hou vog langer en die pot is ook baie ligter as jy dit wil rondskuif.

Jonker deel graag sy kennis en kan gekontak word by 073 222 2880.

Monica Naudé oorhandig ‘n dankie-sê geskenk aan Roelf Jonker wat deur Hettie Botha genooi is om oor tuinbou wenke te gesels.

Susan Valentine het ‘n paar interessante feite van die Karee- en Berg Kareebome gedeel en toe oorgegee aan die gasvrou Hettie, wat gesels het oor twee gesogte skrywers, Irma Venter en Nataniël.

Daar was geskaterlag oor die dele wat Hettie voorgelees het uit Nataniël se boek Help Help en sy het die lede aangemoedig om die boek heeltemal deur te lees as hulle goeie vermaak soek en lekker wil lag.

Net voor die verrigtinge afgesluit is het die voorsiter, Annamarie Axer, die lede herinner aan die volgende byeenkoms, die tak se jaarlikse afsluiting op 14 November.

Die skakelbeampte, Elsa Greyling, het genoem dat veral jong dames gerus kan aansluit by die VLU.

“Dit is nodig vir die jonger geslag om die waardes van die organisasie te laat voortleef en ons hoop om baie nuwe lede te verwelkom,” het sy gesê.

Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak Elsa Greyling by 083 703 1763.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button